Heelparty mense krap kop oor of die boetes wat die Padverkeersoortredingsagentskap sedert 22 Desember 2012 in Johannesburg uitreik wettig is en of ’n mens wel moet opdok.

So lyk jou regte as motoris:

  • Boetes wat jy deur gewone pos ontvang, is onwettig en gevolglik onafdwingbaar. Boetes wat deur geregistreerde pos gestuur word, is wel wettig Onwettige boetes bly op die Johannesburgse metropolisie se stelsel.
  • Die enigste manier om van die boetes ontslae te raak is om ’n AARTO 08-vorm in te vul. Hierdie vorm kan op die AARTO-webtuiste ingevul word en aanlyn ingedien word. Die bestuurder het 64 dae vanaf die datum waarop die oortreding plaasgevind het om die vorm in te dien. In hierdie geval is die rede vir die navraag die onwettige manier waarop die boete opgelê is, naamlik via gewone pos.
  • Aangesien die boetes onwettig is, kan jy nie daarvoor in hegtenis geneem word nie. Dit kan tog probleme veroorsaak as jy jou rybewys of motorlisensie hernu omdat dit nie uitgereik kan word as daar onbetaalde boetes teen jou naam is nie. Die metropolisie kan jou ook by padblokkades lastig val om die boetes te betaal.
  • Die onus rus op elke motoris om te bepaal of hulle onbetaalde boetes teen hulle naam het. Daar is verskeie webtuistes wat hiermee kan help, insluitend www.Payfine.co.za, https://www.viewfines.net/ en Myfine.co.za. Ongelukkig is net sekere munisipaliteite op hierdie webtuistes beskikbaar en nie alle motoriste het toegang tot hierdie hulpmiddel nie.
  • Die Verjaringswet plaas nie ’n verjaringstermyn op gelde wat aan die regering (hetsy nasionaal of plaaslik) verskuldig is nie. Dit beteken jou verkeersboetes sal nooit verval nie. Die beste opsie is om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou dade en die padreëls te gehoorsaam.

– Deur Faiza Mallick

Bron: Die Outomobiel-Assosiasie van Suid-Afrika