’n 83-jarige vrou wat in die Mediclinic Kimberley vir ’n respiratoriese infeksie behandel is, het ’n hartoperasie ondergaan toe sy vir ’n ander pasiënt aangesien is, het Beeld Woensdag berig.

’n Mediclinic-woordvoerder, Denise Coetzee, het die koerant vertel ’n misverstand tussen twee spesialiste het daartoe gelei dat Rita du Plessis op 25 Julie die operasie ondergaan het. Sy was in dieselfde saal as ’n ander bejaarde vrou en albei was pasiënte van dieselfde dokter. “Die dokter het die chirurg gevra om sy pasiënt teater toe te neem om oormatige vog om die hart te verwyder,” het sy gesê.

'Ongelukkig het hy hul vanne verwar.'

“Ongelukkig het hy hul vanne verwar en die verkeerde pasiënt se naam oor die telefoon aan die chirurg gegee.”

Denise het aan Beeld gesê Rita kon nie self toestemming vir die operasie gee nie en die chirurg moes haar man kontak.

Tydens saalrondtes het die dokter sy fout agtergekom toe hy sien Rita is nie daar nie en hoor sy is in die operasiesaal.

Beeld het berig die dokter het haar familie gekontak om verskoning te vra. Die chirurg het hulle ook ná die operasie gekontak om te sê dit was suksesvol.

Volgens die berig het die hospitaal verskoning gevra vir die verwarring en het die hospitaal, chirurg en narkotiseur nie geld vir die operasie gevra nie.

- Sapa