rudi-kunz-2

“Die familie sukkel nog om die ongeluk te verwerk, maar hulle probeer optimisties bly,” sê Carin Botha (34), Rudi se niggie wat names die familie met Huisgenoot.com gesels.

“Net tyd sal kan sê of hy volkome gaan herstel. Die familie is nog hoopvol en bid baie.”

Rudi, sy jongste broer, Johan (23) en ’n groep vriende het op 1 April na die Klaseriedam gegaan om Rudi se 30ste verjaardag te vier.

Rudi het in die water gespring, maar het nie besef hoe vlak dit is nie. Hy was byna onmiddellik verlam en sy lyf het op die water gedryf terwyl hy sy kop skud. Johan het hom dadelik uit die water gehaal en op die gras neergelê.

Hy is na die Netcare Garden City-hospitaal gehaas, waar hy verlede week (4 April) ’n operasie ondergaan het om die werwels in sy nek en rug te herstel. Hy sterk steeds in hospitaal se hoësorgeenheid aan.

“Met die ongeluk het Rudi se werwels geskuif en sy rugmurg is beseer. Aangesien daar nog heelwat swelling is, kan daar nog nie met sekerheid gesê word of die skade permanent is nie.”

Die dokters sal eers sowat twee weke na die operasie die permanente skade kan vasstel.

“Rudi het op die oomblik van sy skouers tot sy tone geen gevoel nie.”

Carin vertel dat die onsekerheid veral Rudi se ouers, Johan en Annemarie Kunz, vang.

Sy spraak is ook aangetas. “As gevolg van die trageostomie vloei daar nie lug deur sy stembande nie. Dit veroorsaak dat Rudi se stem nie gehoor kan word nie. Hy kan wel ons lippe lees.”

Rudi het ook vog op die brein opgedoen en ’n dreineringspypie is ingesit om die vog te verminder en die drukking te monitor. Sodra die vog dreineer het, sal die pypie verwyder word.

“Dit is nog ’n lang pad wat vir ons en hom voorlê.”

Carin sê Rudi is nou rustiger en verstaan wat om hom aangaan en gebeur het. Sy bestempel hom as ’n vegter wat nie sal gaan lê nie.

“Ons as familie en vriende glo, bid en vertrou in Rudi se volle herstel. By God is niks onmoontlik nie.”