[caption id="attachment_167184" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/ Rudi Kunz Foto: Facebook/ Rudi Kunz[/caption]

Rudi het Saterdag saam ’n groep vriende langs die dam gaan kamp, toe hy vanaf die oewer in die dam ingespring het. Hy het nie besef hoe vlak die water is nie.

Volgens ’n vriendin, Melissa Swan, was Rudi onmiddellik verlam vanaf sy nek en het hy gedryf bo-op die water – net sy kop het geskud. Rudi se broer, Johan (23), het hom dadelik uit die water gehaal en op die gras neergelê.

Hy kon gelukkig sy asem onder die water ophou en het nie water gesluk nie, vertel sy.

“Hy was by sy volle bewussyn en het met ons gepraat nadat hy uit die water gehaal is. Ons het die noodienste gebel en ’n paar van ons het by hom gesit en sy arms en bene gevryf om sy bloedsomloop aan die gang te hou.”

Maar Rudi kon niks voel nie.

“Hy het gesê hy kan niks voel nie en het gevra of hy nog in die water is.” Rudi is per ambulans na ’n hospitaal in Nelspruit geneem.

’n Skandering het vasgestel dat van sy boonste rugwerwels verskuif het en knyp sy rugstring vas. Hy is Sondag per helikopter na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem om daar Dinsdag geopereer te word.

Die dokters het tydens die operasie aan sy derde en vierde nekwerwels geopereer. Rudi is steeds onder verdowing en dit is onduidelik wat die prognose is totdat hy wakker word.

Volgens die familie sal hulle later in die week weet of die operasie suksesvol was, al dan nie. Intussen word gebedsgroepe regoor Suid-Afrika vir Rudi se genesing gereël.

Hoewel die familie sê hulle besef min mense herstel volkome van hierdie soort beserings, glo hulle dat God hom sal genees.