Die drie kinders, tussen 3 maande en 6 jaar oud, het in die informele nedersetting Samora Machel naby Kaapstad gewoon.

Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder lt.-kol. Andrè Traut het Dinsdag gesê nadoodse ondersoeke sal uitgevoer word om vas te stel wat die oorsaak van hul dood was.

Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid is net een kind Dinsdag dood nadat vergifte vleis geëet is.

Drie volwassenes en vier kinders het volgens die departement se woordvoerder, Darren Francis, Maandag van die vleis geëet.

Hoewel die oorsprong daarvan onseker is, is daar na bewering organofosfate op die vleisporsies gevind. Dié groep chemikalieë word in die algemeen in insekdoders gebruik.

Volgens Francis is die kinders in ’n ernstige toestand na die Rooi Kruis-kinderhospitaal geneem. ’n Man verkeer nog in ’n kritieke toestand in die Groote Schuur-hospitaal terwyl ’n vrou reeds uit die Mitchell’s Plain-hospitaal ontslaan is.

Francis sê hulle het die polisie, omgewingsgesondheid en die stad se rampbestuurspan van die voorval in kennis gestel om die beweerde omstandighede van die vergifte kos te ondersoek.

Bron: News24