Die briefie was aan die baba se hemp vasgekram met sy ma se verskoning daarop.

Die briefie, geskryf in Zoeloe, het gelui: “Ek vra om verskoning vir wat ek gedoen het, vergewe my asseblief. Daar is niks wat ek kan doen nie. Die pa ontken dis sy kind. Ek het nie ’n ID-dokument om vir ’n toelaag aansoek te doen nie, want ek het dit by die huis op die platteland gelos. Kyk asseblief mooi na die baba of neem dit polisie toe.”

Zokuthula Ngcobo, ’n verpleegster by Westville-hospitaal in Durban, het aan News24 gesê sy het gewag vir vervoer huis toe ná ’n skof toe ’n verbouereerde taxibestuurder haar nader.

“Ek het saam met hom na die taxi gegaan en die baba het op die sitplek gelê. Sy ogies was geswel en hy’t geskree. Die bestuurder was bang om aan hom te raak. Ek het die baba opgetel. Ek dink hy was vir ’n lang tyd onder die sitplek want die bestuurder het ’n vol taxi vanaf die stad na Pinetown geneem en is toe terug na die Pavilion voor hy die gehuil gehoor het.”

Zokuthula sê sy het die kind na die nabygeleë hospitaal se trauma-eenheid geneem waar die dokter hom gevoer en ondersoek het.

“Nog ’n ambulans het gekom en het saam met die polisie die baba na die Addington-hospitaal geneem.”

Bron: News24