Kris Jenner het Kim Kardashian aangeraai om nie gou weer te trou nie, want ’n derde egskeiding kan haar reputasie ruïneer.

Die Keeping Up with the Kardashians-ster dink Kim (32) – wat al twee keer geskei is en onlangs die lewe geskenk het aan haar en die rapper Kanye West se eersteling, North West, – moenie so kort ná haar egskeiding van Kris Humphries met Kanye trou nie.

’n Familievriend het aan die skinderwebtuiste NaughtyButNiceRob.com gesê: “Kris moedig die paartjie aan om nie te trou nie. Ná Kim se vorige huwelik van 72 dae, meen Kris die Kardashian-handelsmerk het nie nog ’n trouramp nodig nie. Sy sê hulle moet hul tyd vat en mooi daaroor dink. ’n Derde egskeiding is nie iets wat Kris vir haar dogter of haar familieonderneming wil hê nie.

“Almal in die gesin wil hê Kim moet gelukkig wees, maar terselfdertyd verseker hulle haar sy hoef nie getroud te wees om geluk te vind nie.

“Kim aanbid Angelina Jolie en Brad Pitt; daarom gebruik haar ma hulle as voorbeeld van hoe jy ’n standvastige, toegewyde paartjie kan wees sonder om voor die kansel te gaan staan. Kris het eers vir Goldie Hawn en Kurt Russell as voorbeeld voorgehou van ’n wonderlike paartjie wat nooit getroud is nie, maar Kim het geen idee gehad wie die twee is nie.”

Kim was tot in 2004 vier jaar lank met die musiekvervaardiger Damon Thomas getroud en haar egskeiding van Kris is verlede maand afgehandel toe hulle eindelik hul hofstryd geskik het, wat in laat Oktober 2011 begin het.