Wel, dit was dalk nie heeltemal wat skaaphond Don in gedagte gehad het nie. Maar hy het gister die mense in Abington, Skotland behoorlik op hol gehad toe hy in sy eienaar se trekker oor die snelweg gerits het. Don het in die trekker se kajuit agtergebly terwyl sy eienaar, Tom Hamilton, sy lammertjies geïnspekteer het. Tom het wel die handrem opgetrek, maar nie hoog genoeg om die trekker, wat teen ‘n bult gestaan het, heeltemal tot stilstand te hou nie. En toe’s daar moles - die trekker het teen die steil bult afgerol, die M74-snelweg oorgesteek en uiteindelik in ’n sekuriteitsversperring tot stilstand gekom. Met Don nog ewe binne...
Geen motors of mense is in die proses getref nie en Don gelukkig ook geen beserings opgedoen nie. Inteendeel, hy het so rustig op die sitplek gelyk dat mense aangeneem hy was besig om te bestuur. Dit het sosiale media heerlik aan die gons gehad.

Bronne: Yahoo News, Daily Mirror