Vyf dae ná 'n pa van twee kleuters in die Bon Accord-dam buite Pretoria verdrink het, is sy lyk Woensdagoggend omstreeks 10:45 gevind, het Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, aan Huisgenoot bevestig.

Jacko Badenhorst (43) het Saterdagmiddag onder die water verdwyn nadat hy saam met vriende op 'n boot uitgevaar het en Jacko na wat berig word in die dam gespring het om te swem.

Menita Visagie, Jacko se vriendin, het die afgelope vyf dae vir ure langs die dam gesit terwyl polisieduikers na Jacko se lyk gesoek het.

Sy het nog vanoggend op Facebook geskryf: “Ai my bok. Vandag is dag 5 van ons soektog. My senuwees is klaar en ek is gebreek. Kan steeds nie aanvaar jy is nie meer daar vir my nie. Als is nog heeltemal te onwerklik. Ek kan nie, wil nie en gaan nie sonder jou kan alleen voortgaan nie. Jy is en was my hele rede vir bestaan. Sal jou nooit kan vergeet nie. Niemand sal ooit ons memories kan wegvat van my nie...en ons het goeies gehad. Lief jou oneindig baie.”

Sowat 'n uur en 'n half ná Jacko se lyk gevind is, het Menita geskryf: “Dankie Liewe Heer vir die krag wat U my gee en met die vind van my lief. Ek sal 10 en 14 September in my lewe nooit ooit vergeet nie.”

Volgens Netwerk24 het Menita in trane uitgebars toe die lyk aan wal gebring is.