Die Murray-gesin vertrou dat ’n hoër hand hulle sal lei om eindelik hul geliefde ma van vyf te vind nadat sy twee weke terug tydens die erge vloede in Pretoria vermis geraak het.

“Daar is altyd hoop. Ons hoop en vertrou dat haar lyk gevind gaan word,” sê Bertie, haar eksman.

Madelein Murray (40) en haar seun Hanco (20) was op pad om sy ouma te gaan haal toe hulle oor ’n laagwaterbrug wou ry. Die stroom het hul kar meegesleur. Hanco het dit reggekry om uit die vloedwaters te ontsnap, maar die stroom het sy ma meegesleur. “Die soektog is tot tyd en wyl afgelas, maar as dit weer reën sal daar een keer per week langs die Apiesrivier gesoek word,” sê Bertie.

Bertie sê veral vir Hanco is die verlies van sy ma nog baie moeilik. “Van al vyf die kinders, was hy seker die ergste oor sy ma."

Hanco se oudste broer is ook onlangs aan breinvliesontsteking oorlede.

“Die berader het gesê hierdie kinders het al baie trauma in hul lewe ervaar. Hulle het baie verlies in hul lewe gehad, maar hulle is sterk kinders. Ons sal hierdeur kom.”

Intussen is die lyk van die driejarige Everlate Chauke, wat ook tydens die oorstroming in Alexandra vermis geraak het, langs die Jukskeirivier gekry.