Isabella Christina Kruger was nog in haar slaapklere toe sy Saterdag dood in die bad by haar huis in die Kraaibosch Country Estate aangetref is. Haar dogter het omstreekts 12:00 op haar lyk afgekom, sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder.

Twee mans, onderskeidelik 28 en 31 jaar oud, is later die dag in hegtenis geneem ná ’n lid van die publiek een van die verdagtes in Isabella se motor gesien het. Die motor, ’n Honda Jazz, is verlate op ’n grondpad naby Hoekville gevind.

Die polisie het die verdagtes op die N2 naby Victoria Heights vasgetrek. Van Isabella se gesteelde besittings, waaronder ’n skootrekenaar, is in die voertuig gevind.

“Die 31-jarige verdagte word aangekla van moord en sal Maandagoggend in die landdroshof in George verskyn,” sê Malcolm.

Volgens hom is die tweede verdagte vrygelaat ná sy alibi ondersoek en bevestig is. “Daar is in die stadium nie genoeg bewyse om hom met die moord te verbind nie.”

Dit is nog nie heeltemal duidelik hoe die vermeende moordenaars toegang tot die kompleks verkry het nie, maar daar is tans bouwerk aan die gang.