Willem (61) en Isa (65) Swart se verkoolde lyke is op 13 Junie 2017 in Spider Valley tussen Vanderbijlpark en Vereeniging gekry.

Die egpaar het in Junie met vakansie Nelspruit toe gegaan. Dit kom voor asof hulle vermoor is met hul terugkeer huis toe. Hul gepakte tasse het nog in die voorportaal van hul huis gestaan toe hulle spoorloos verdwyn.

'n Dag later is hul motor by Vereeniging se stasie gevind.

Kapt. Fikile Funda, polisiewoordvoerder, het bekendgemaak dat 'n 40-jarige man weens hul moord in hegtenis geneem is. Die man, Darren Maree, het 'n tuinwoonstel by die paartjie gehuur ten tyde van die moorde.  

Maree se DNS is op die toneel gevind. Hy het Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met hul moord. Volgens Vaalweekblad het Darren na die egpaar se moord in Vanderbijlpark geskuil.

Dit is nog nie bekend wat die motief was nie.

Hy sal Vrydag weer in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.