’n Verdagte inbreker wat by Buckingham-paleis aangekeer is, is ’n musiekvervaardiger wat saam met Amy Winehouse gewerk het.

Victor Miller (37) is ná die onregmatige betreding vir inbraak, oortreding en kriminele skade aan ’n deur in hegtenis geneem. Nadat hy op borgtog vrygelaat is, het dit aan die lig gekom dat die tragiese sangeres een van sy kliënte was. Sy is in 2011 oorlede.

Die webtuiste vir UK Artist Development, sy maatskappy wat vroeër vanjaar gesluit het, noem die ster as een die bekendes saam met wie hy gewerk het.

Dit lui: “Victor het langer as 15 jaar opname-ateljees bestuur. Sy kliënte sluit in Amy Winehouse, N-Dubz, Wiley, Tinchy Stryder en Shola Ama.”

’n Tweede man wat verdink word van sameswering tot inbraak is in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat prins Andrew twee dae ná die eintlike inbraak op Maandag 3 September met ’n vuurwapen aangehou is nadat die polisie hom vir ’n inbreker aangesien het.

’n Bron het aan die Daily Star Sunday gesê: “Almal praat oor hierdie twee voorvalle en kan nie glo wat gebeur het nie.

“Die feit dat hierdie ou in staat was om rond te loop sonder dat hy raakgesien of voorgekeer is, is erg genoeg – en om dan die hertog vir nog ’n oortreder aan te sien is omtrent ongelooflik.”