’n Betroubare bron het bevestig dat die verdagte verlede jaar in Oktober op parool vrygelaat is nadat hy 3 jaar tronkstraf vir huisroof uitgedien het. Die destydse roof het glo in dieselfde woonstel waar die onderwyseres gewoon het, plaasgevind.

“Addisionele klagtes is vanoggend by Kay-Leen se moordsaak bygevoeg. Die klagtes sluit moord, huisroof, diefstal van ’n voertuig en verkragting in,” het sersant Mamello Mokhuoane van die Virginia-polisiekantoor Maandag aan Huisgenoot bevestig.

“’n Voorlopige ondersoek het die polisie gelei na Seloja in Meloding, waar hulle Kay-Leen se gesteelde swart Renault Clio ontdek het. Leidrade het die polisie op twee verdagtes se spoor gesit, en een van hulle is vandag formeel aangekla. Die tweede verdagte is vrygelaat nadat geen bewyse hom aan die saak kon verbind nie.”

Tydens die verdagte se aanhouding het ao. Thabiso Twala van die Thabong-polisiekantoor die verdagte met nog ’n saak van seksuele aanranding in Meloding verbind.

“Die polisie ondersoek nog die saak en ’n borgaansoekdatum sal later bekend gemaak word,” het Mamello gesê.

Kay-Leen word oorleef deur ’n 5-jarige dogtertjie wat by haar ouers in Bloemfontein woon.