’n Paartjie van Alberton, suid van Johannesburg, het die afgelope naweek hul huweliksherdenking by ’n oord in Bergville aan die voetheuwels van die Drakensberge in Kwazulu-Natal deurgebring toe weerlig die man tref.

Die paartjie het langs ’n klein paadjie gery toe die man gestop en uitgeklim het om ’n foto van ’n “ongelooflike wolk met sonstrale wat daardeur skyn” te neem, het paramedici Sondag gesê.

“Volgens sy vrou het haar man aan die bestuurskant van die motor met die deur oop gestaan. Sy was besig op haar selfoon toe sy ’n oordonderende slag hoor. Sy het dadelik opgekyk en kon nie haar man sien nie,” sê die ER24-woordvoerder Werner Vermaak.

Sy het haar man bewusteloos langs die voertuig en sonder ’n polsslag aangetref. Hy het ’n brandwond aan sy nek en linkerskouer opgedoen en sy T-hemp was aan flarde.

Sy het dadelik die oord gebel en gevra dat hulle ’n ambulans ontbied en toe kardiopulmonêre resussitasie op hom begin toepas.

’n Minibustaxi het verbygery en gestop om die vrou te help. Daar was ’n verpleegster in die taxi wat haar te hulp gesnel het, sê Werner.

Die vrou en verpleegster het saam die man bygegbring terwyl die ander passassiers om die beseerde man gesing en gebid het. Die man het begin asem haal kort voor paramedici opgedaag het en daar is met hom na ’n hospitaal in Ladysmith gejaag.

Hy het agterna net gekla van naarheid en dat hy niks kon hoor nie. Hy is tans in ’n stabiele toestand en ondergaan toetse, sê Werner.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

10 skreeusnaakse reaksies op Leo se Oscar-glorie

Leonardo DiCaprio se Oscar-droom word uiteindelik waar

Jy sal nie glo wat elke Oscar-benoemde vanaand gaan kry nie!

Kankerlyer vertel roerend: ‘As dit nie vir die baba was nie, sou ek nooit van die gewasse uitgevind het nie’

Sewe kere toe Taylor Swift gewys het wat in haar steek

Vermiste Worcester-baba gevind