Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) gaan klagtes oor die e-tolstelsel hanteer, maar moenie die eerste linie van klagtes wees nie, het die kommissaris, Ebrahim Mohamed, gister gesê.

“Die NVK moedig verbruikers aan om klagtes by die verkoopspunt in te dien en hul klagtes daar te laat probeer hanteer,” het hy gesê.

As verbruikers onverskillig hanteer word of voel die onderneming of instelling het nie hul klagtes toereikend aangespreek nie, kan hulle die saak by die NVK aanmeld.

“Dit keer nie dat verbruikers die NVK (met hul klagtes) nader nie,” het Ebrahim gesê.

Die Demokratiese Alliansie en die Vryheidsfront Plus het onlangs bekendgemaak hulle sal motoriste se klagtes oor e-tolrekeninge fasiliteer deur hulle by die NVK in te dien.

Ebrahim sê die kommissie sal die klagtes ondersoek, maar moet dit binne sy beperkte hulpbronne doen.

“Dit is ons mandaat om verbruikers te help, en ons sal dit doen.

“Ons sal ’n span op die been bring wat na die klagtes kan kyk en hulle kategoriseer.”

Die NVK sal dan die kategorieë van probleme met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) bespreek en maniere soek om die probleme op te los.

Ebrahim het gesê die NVK is nie ’n beregtigingsliggaam nie en het nie die mag om ’n rekening ongeldig te verklaar nie.

Maar hulle kan die saak na die Verbruikerstribunaal verwys, wat meer mag in dié verband het.

Gister het die VF+ gesê hulle sal ’n klag by die NVK indien oor probleme met e-tolrekeninge, gegrond op ’n aantal probleme wat Gautengse motoriste met die e-tolstelsel ervaar.

“Die klagtes vorm deel van die party se voortgesette teenstand teen tolpaaie... in sy stryd teen die misbruik van die stelsel deur Sanral,” het Anton Alberts, die VF+ se woordvoerder oor vervoer, in ’n verklaring gesê.

Tot dusver het die klagtes onder meer gegaan oor die foutiewe uiteensetting van koste op e-tolrekeninge, rekeninge wat verkeerdelik uitgereik word aan mense wat nie die tolpaaie gebruik het nie en die hoër tolpryse vir motoriste wat verkies het om nie e-skyfies te kry nie.

Die VF+ sê hulle sal later in die week ’n webtuiste oprig waarop mense kan kla oor die e-tolstelsel.

Die Demokratiese Alliansie het verlede week ’n soortgelyke projek bekendgestel.

Sanral was nog nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Op 10 Januarie het Vusi Mona, hul woordvoerder, blykbaar erken daar is ’n paar probleme met die invorderingstelsel.

Maar hy het gesê daar is nie ’n groot aantal “ware” klagtes nie, en dat die klagtes wat op die verbruikerswebtuiste Hellopeter.com ingedien is, deur Sanral se departement vir openbare betrekkinge hanteer word.

“Ons oortree geen wette of skend mense se privaatheid nie,” het hy gesê.

Sanral het Gautengse voertuigbestuurders herhaaldelik gemaan om vir die stelsel te registreer, want eienaars van e-skyfies kom in aanmerking vir verlaagde tolgeld.