Suid-Afrika se laaste hoop op ’n enkelspeltitel in vanjaar se Franse Ope-tennistoernooi, Kevin Anderson, sal hard moet baklei as hy vandag die kwarteindronde wil haal.

Kevin, die 19de gekeurde, kom om elfuur te staan teen die vyfde gekeurde en verlede jaar se naaswenner, die Spanjaard David Ferrer.

Hoewel Kevin nog nooit verby die vierde ronde van ’n mansenkelspel van ’n Grand Slam kon vorder nie, tel sy spelpeil teen David in sy guns: Dié twee het al vier keer teen mekaar te staan gekom en elk het twee wedstryde gewen.

Maar David het waarskynlik die sielkundige oorhand omdat hy Kevin verlede jaar – ook in die vierde ronde van die Franse Ope – spotmaklik met 6-3, 6-1, 6-1 getroef het.

As Kevin wel alles kan uithaal om David te klop, sal die opdraande stryd nie verby wees nie, omdat hy dan waarskynlik in die kwarteindronde teen die eerste gekeurde Rafael Nadal te staan sal kom. Nie net is Rafael die verdedigende kampioen nie; hy het ook die Franse Ope reeds agt keer gewen.

BRONNE: ROLANDGARROS.COM, ATPWORLDTOUR.COM, TENNISLIVE.NET