Dit is vroegoggend in die Kalahari en in die Theron-huishouding aan die buitewyke van Kuruman is daar groot opgewondenheid: Die sanger en aktriseElizma Theron (27) is wel ’n besige meisie, maar sy het eenvoudig die tyd van êrens opgetower om vir haar ouers en broer en suster op hul kleinhoewe op haar grootworddorp te kom kuier.

Sy probeer darem minstens vyf keer per jaar hier uitslaan, en wat die res betref, moet sy en haar ouers maar tevrede wees met beplande ontmoetings waar sy ook al in die land optree. Soos by die KKNK, nou al ’n jaarlikse Theron- instelling.

Maar dit is hier op Kuruman in haar ouerhuis dat sy die lekkerste saam met haar mense kuier.

Teen ontbyttyd vul die reuk van vars gebakte brood die kombuis terwyl ma Elmarie konfyt en botter op die tafel neersit. Elizma wil dadelik een van die korsies gaps, maar haar ma keer haar.

‘‘Los!’’ sê Elmarie kamma kwaai. ‘‘Maar Ma!’’ protesteer Elizma. En kort voor lank smul sy aan die tuisgebakte broodkorsie waarop sy ’n dik laag botter gesmeer het.

Elizma en hul ma baklei altyd so oor die korsies, verklap kleinsus Su-Mari (19). ‘‘Maar soms, terwyl hulle nog daaroor redekawel, dan steel ek dit sommer so onder hul neuse uit!’’ sê Su-Mari wat vanjaar LL.B. deur Unisa studeer.

Pa Jó en ma Elmarie was nog altyd hul oudste se lojaalste ondersteuners en hulle sal steeds baie maklik die langpad vat na een van haar optredes. En as dit KKNK-tyd is, pak Jó en Elmarie hul tasse vir die 1 000 km lange rit na Oudtshoorn.

Hulle kyk waarna hulle kan, en dis baie, maar mis geen enkele van Elizma se vertonings nie.

Hul roetes met vakansies word ook maklik so beplan dat hulle op ’n spesifieke aand saam met Elizma op ’n spesifieke dorp kan wees. So was dit nog altyd – Elizma op die verhoog en Ma en Pa op die agtergrond om haar te ondersteun. Aan die begin het hulle selfs haar bemarking gedoen.|

‘‘Ons was haar amptelike CD-verkopers en tasdraers,’’ spot pa Jó met ’n koppie koffie in die hand.

Lees die volledige artikel oor Elizma in die lente-uitgawe van Tempo.