Barson was in die passasiersitplek en sy vrou, Linda, agter die stuur toe hul motor Venus s’n op 9 Junie in ’n kruising in Palm Beach Gardens, Florida, tref.

Linda het beenbreuke opgedoen en Jerome is met inwendige bloeding en orgaanskade na die hospitaal gehaas. 

Hy het twee weke later aan sy beserings beswyk – op Linda se 68ste verjaardag. 

Die polisie het Venus daarvan beskuldig dat sy die verkeerslig verontagsaam het. En later, op 30 Junie, het die familie bekendgemaak hulle wil die vyfmalige Wimbledon-kampioen dagvaar.

Linda het vergoeding geëis vir die verlies aan geselskap en verdienste asook lyding, hospitaalkoste en begrafnisuitgawes. 

Maar Mail Online het Dinsdag dokumente bekom wat aandui Venus gaan die eis teenstaan.

Die 37-jarige skryf Jerome se beserings toe aan die egpaar se nalatigheid en die feit dat Jerome nie ’n veiligheidsgordel gedra het nie. 

Sy beskuldig die egpaar ook daarvan dat hulle nagelaat het om hul voertuig in ’n geskikte toestand te hou.

Die sportvrou eis nou dat die staat lykskouersverslae, Jerome se doodsertifikaat, afskrifte van hul huweliksertifikaat, belastingopgawes van die afgelope vyf jaar en lewens- en gesondheidsversekeringspolisse oorhandig.

Maar dit is nie al nie. Venus soek ook afskrifte van die foto’s wat van die ongeluk geneem is, Jerome se mediese rekords van die afgelope vyf jaar, grade en diplomas, asook ’n lys van beskikbare weefsel-, bloed- en vloeistofmonsters van die lykskouing.

Sy versoek selfs ’n lys van dokters, psigiaters en sielkundiges by wie Jerome in die 10 jaar voor sy dood besoek afgelê het.

“Nadat die aanvanklike ondersoek uitgevoer is, is nuwe getuienis oor die voorval gevind,” lui ’n verklaring van die Palm Beach Gardens-polisiekantoor.

 “Videobeeldmateriaal is verkry van ’n gemeenskap suid van die kruising wat die verkeersongeluk opgeneem het.

“Op grond van die bewyse wat in die voortgesette ondersoek verkry is, is vasgestel die voertuig wat deur Venus Williams bestuur is, het die kruising wettig op ’n groen verkeersein binnegegaan en deur die kruising probeer noord ry na Ballen Isles-rylaan.

“Terwyl Williams deur die kruising gery het, het ’n Nissan Altima (’n derde voertuig wat nie in die botsing betrokke was nie) die kruising in ’n suidelike rigting binnegegaan en links gedraai voor Williams se voertuig in, wat haar gedwing het om in die kruising te rem om ’n botsing te voorkom.

“Nadat die Nissan verby Williams gery het, trek Williams dan weg om uit die kruising te kom in ooreenstemming met Florida se Statuut 316.075 (10(a)1).

“Die voertuig wat deur Linda Barson bestuur word, het wes gery in die buitebaan van Northlake-boulevard, in die rigting van ’n egalige rooi verkeersein.

“Die verkeerslig slaan dan oor na groen, waarop Barson aanhou wes beweeg en die kruising binnegaan.

“Die voorkant van Baron se voertuig tref dan die regtervoorkant van Williams se voertuig. Hierdie nuwe inligting, op grond van die nuwe bewyse, word nog ondersoek.”

Bronne: mirror.co.uk, telegraph.co.uk, mailonline.co.uk