Lise Brink, wat ná meer as twee maande in die hospitaal tuis is, se rehabilitasie gaan na verwagting van ’n jaar tot 18 maande duur.

Ernst Vorster, Solidariteit se hoof van kommunikasie van, sê in ’n verklaring namens die gesin volgens Lise se mediese versorgers gaan dit goed met haar, al wag ’n lang pad van rehabilitasie.

Lise was op 16 Desember saam met haar man, dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en hul vyf kinders in ’n ongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke. Hulle was op pad na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap toe hul voertuig rol weens ’n band wat gebars het.

Twee van hul kinders, Rachel en André, het omgekom.

Lise se linkerbeen moes op 21 Desember bo die knie geamputeer word en sy was geruime tyd in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Ernst sê so ’n amputasie bokant die knie bemoeilik rehabilitasie en maak die protese duurder as wat dit sou gewees het as haar been onder die knie afgesit is. Omdat die prostese in haar geval soveel meer ingewikkeld gaan wees, kan dit tot sowat R500 000 kos.

Benewens die prostese, waarvan die Brinks se mediese fonds net ’n deel betaal, bring die hegstukke en gepaardgaande terapie ook groot uitgawes mee. Maar Danie beskou sy vrou se ontslag uit die hospitaal as ’n reuse-mylpaal. “Danie en Lise is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van die publiek ontvang,” het Ernst gesê. Volgens hom wil die egpaar die media in die besonder bedank dat hulle die publiek op die hoogte hou van Lise se vordering, maar hy het bygevoeg: “Ons moet ook begrip hê vir die Brink-gesin se behoefte om in privaatheid te rou oor hul tragiese verlies. Hulle moet tyd gegun word om die trauma saam te verwerk.” Om geld vir die prostese in te samel, het vriende van die gesin en kollegas in die Solidariteit Beweging besluit om die Hardloop vir Lise-veldtog te begin.

Verskeie atlete en lede van die publiek gaan op Saterdag 4 Maart deelneem aan die Sunrise Monster-wedloop, waarvan die opbrengs Lise se mediese uitgawes sal help dek.
Enigeen wat die veldtog wil ondersteun, kan Hardloop vir Lise besoek vir nog inligting, of die QR-kode skandeer.