Al kan die meeste Suid-Afrikaners nie vreeslik hard oor snerpende koue en gure weer kla nie, moet ons tog let op hoe die strawwe wintermaande ons voertuig beïnvloed, reken die versekeringsgroep Virseker. Padtoestande vereis ook dikwels dat motoriste hul gedrag aanpas en waaksaamheid verskerp, sê die Automobiel Assosiasie (AA).

“Enige probleme wat jy in die warmer maande met jou voertuig ervaar het, kan in die koue drie keer erger word. As jy byvoorbeeld ’n bietjie gesukkel het om die enjin in die somer aan die gang te kry, kan jy maar weet dat jy in die winter gestrand sal raak,” sê Dawid Botha, Virseker-woordvoerder.

Virseker gee dié wenke oor motorsorg in die hartjie van die winter:

• Gaan die bande se loopvlak na. Verweerde bande is veral in ysige toestande ’n gevaar vir jou en ander motoriste.

• Lae temperature kan banddruk verlaag. Banddruk van 2 bar in somertemperature kan byvoorbeeld maklik tot 1,8 bar daal in die winterkoue. Maak dubbel seker jou motorbande is reg gepomp.

• Enjins vat moeiliker in lae temperature weens laer batterykrag en minder vloeibare olie. Laat jou motorbattery nagaan en ook die olie vervang indien nodig.

• Hoe laer die temperatuur, hoe stadiger verdamp brandstof en hoe moeiliker ontbrand dit. Dus is dit nou die aangewese tyd vir ’n diens as jou motor lanklaas nagesien is. Selfs net ’n nuwe stel vonkproppe kan ’n groot verskil maak.

• Gebruik die regte mengsel van vries-teenmiddel en water; ’n konsentrasie van tussen 40 persent en 50 persent word aanbeveel.

• Wasem en soms selfs ’n dun yslagie op ruite is ’n groot winterrisiko. Maak seker jou motor se ontwasemingstoestelle werk. Maak ook seker die verwarmer werk, maar wees versigtig: ’n Mens kan lomerig raak in ’n motor wat te knus binne is.

• Klein barste in die voorruit kan in grotes ontaard wanneer die temperatuur baie wissel, veral as vogtigheid dit binnedring. Laat dus jou voorruit so gou moontlik nagaan en herstel indien nodig.

• As jou motor buite staan, moet jy seker maak die ruitveërs is afgeskakel voor jy die enjin afskakel. Die stremming van ys wat op die veërs opbou, kan die ruitveërmotor selfs laat uitbrand as jy jou motor weer aanskakel. Spoel die voorruit en ruitveërs met warm water af voor jy op ’n koue winteroggend vertrek. Pasop egter vir kokende water: dit kan die ruit laat kraak.

• Sorg dat die brandstoftenk altyd meer as halfvol is. As jy in die winter gestrand raak, is jou motorenjin dalk jou enigste hittebron.

Padtoestande

• Wees versigtig vir die verblindende skittering van die laer son gedurende spitsverkeer. Dra ’n goeie sonbril en verminder dadelik spoed as jy sukkel om te sien.

• “Baie meer nat, ysige paaie in dié tyd beteken bande het net die helfte van hul normale greep,” sê die AA. “Wees bewus daarvan en pas jou bestuurstegniek aan. Rem vroeër en verminder spoed om draaie. En dis nou selfs noodsaakliker dat motoriste deurgaans op die pad voor hulle konsentreer.”

• Ry liewer met jou hoofligte aan, veral wanneer ligtoestande verswak.

• Moet nooit kanse waag by laagwaterbrûe nie; water wat bedrieglik vinnig vloei kan jou motor maklik meesleur.

• Verminder spoed voor jy deur stilstaande water op die pad ry; indien nie, kan dit jou motor onverwags laat swenk en jou beheer laat verloor.

• Wees waaksamer wat volgafstand en veiligheidsgordels betref.

• Neem ook die regte klere, komberse, versnaperings en drinkgoed saam as julle na gebiede reis waar julle gure weer kan aantref en maak seker jul selfone is ten volle gelaai, maan die AA.

Bronne: Virseker, AA