Dis weer daardie tyd van die jaar.

Maar dit beteken ook hulle kan onder die Afrika-son verskroei as jy nie die nodige voorsorgmaatreëls tref nie. Erger nog, dis ook die tyd van die jaar dat die aantal verdrinkings en amper-verdrinkings die hoogte in skiet. Hoe tref ’n mens die nodige voorsorg- en veiligheidsmaatreëls om jou kroos teen die water en son te beskerm?

Veiligheidswenke by die water

Volgens Netcare is daar ’n toename in noodoproepe wat hulle ontvang oor verdrinkings en amper-verdrinkings in die binneland. Dis kinders, grootliks tussen twee en agt jaar, wat in openbare en privaat swembaddens, damme en riviere swem. Aan die kus is minder verdrinkings. Die voorvalle is hoofsaaklik onder kinders tussen die ouderdomme van 10 en 18 jaar. Nick Dollman van Netcare 911 sê op hul webtuiste die nooddiens het besef die verdrinkings kom veral voor onder kinders wat nie gewoond is aan naby water speel nie.

“Negentig persent van kinders wat verdrink, is onder die een of ander vorm van toesig.

“Kinders kan in ’n paar honderd millimeter water verdrink. Ons het al selfs na ’n noodgeval gegaan waar ’n baba in ’n bak water geval het waarin doeke geweek is.”

-        Die goue reël is om kinders nooit sonder toesig en alleen by water te los nie, waarsku die Johannesburgse nooddienste. Dit is baie algemeen om onder water ’n kramp te kry of dat iemand dalk hul kop teen ’n swembadrand of ’n klip stamp; daarom is dit altyd noodsaaklik dat ’n volwassene in die omtrek is ingeval ’n krisis ontstaan.

-        Veiligheid is die wagwoord by swembaddens, waarsku die Johannesburgse nooddienste ook. Kinders ouer as vier jaar behoort by ’n geakkrediteerde swemskool swemlesse te kry, of ten minste dryf- of lewensreddingstegnieke leer.

-        Die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie beveel aan dat ouers sowel as ouer kinders noodhulp leer ingeval ’n krisis ontstaan om die mens wat in gevaar is te stabiliseer.

-        Span ’n veiligheidsheining om jou swembad met ’n hek wat outomaties toeslaan en sluit. Moet nooit die hek by ’n swembad oop los nie. Ook nie die swembad nie: As die swembad ’n net het, maak seker die net is altyd oor die swembad gespan. Selfs al het jy nie kinders nie, rig ’n heining om jou swembad op en span ’n net oor die swembad. Hoe meer veiligheidsmaatreëls, hoe beter. Besoekers se kinders kan maklik by jou huis verdrink as hulle nie water gewoond is of weet hoe gevaarlik water is nie.

-        Maak seker daar is altyd ’n lewensreddingstoestel wat kan dryf by die swembad.

-        Damme, mere en riviere is nie ontwerp om in te swem nie; daarom kan daar nie veiligheidsheinings om dit aangebring word nie. As jy naby water woon, rig ’n heining om jou huis of erf op.

-        Maak seker daar is niks naby die swembadheining wat jou kind kan gebruik om daaroor te klim nie – soos ’n potplant.

Veiligheidswenke teen die son

Tussen 11:00 en 15:00 is die son op sy skadelikste. Selfs deur wolke kan enigeen erg brand. Hoe ligter jou kind se vel, hoe groter die kans op sonskade en sonbrand. Babas onder ses maande moet te alle tye onder ’n sambreel of in die skadu wees. Selfs dan moet jy steeds sonskerm aanwend.

-        Gebruik ’n sonskerm met ’n SBF 30-faktor wat jou kind se vel teen UVA- en UVB-sonstrale beskerm. Smeer dit aan die hele gesig, neus, ore, nek, hande, voete en skouers. Wend ook onder die swembroekbandjies sonskerm aan ingeval dit skuif of afval in die water. Smeer die sonskerm minstens ’n halfuur voor blootstelling aan die son aan.

-        Smeer ’n liproom met ’n SBF 30-faktor aan.

-        Dis belangrik om sonskerm deur die dag aan te wend, verkieslik tweeuurliks.

-        Soek skaduwee onder ’n boom of sambreel of slaan ’n gazebo op waaronder almal kan ontspan.

-        Moenie in die son baai nie. Dra ’n sonhoed, nie ’n kep nie, wat jou gesig, kop, ore en nek bedek. Al sonbaai donker velle eerder as sonbrand omdat die vel meer beskermde melanien bevat, is sonbaai steeds ’n teken van sonskade.

-        Laat jou kind ’n sonbril dra; dit beskerm sy oë teen die sonstrale wat katarakte kan veroorsaak of die kornea kan beskadig.

-        Dra katoen- en linnehemde met lang moue, broeke, rompe of ander klere.

-        Sekere medikasie verhoog jou kans om in die son te verbrand – vra jou dokter hieroor as jy chroniese medikasie gebruik.

-        Danel Blaauw

EKSTRA BRONNE: STAD JOHANNESBURG, NETCARE, SENTRUM VIR SIEKTEBEHEER EN -VOORKOMING, ABOUTKIDSHEALTH.CO.ZA