Jody het sy knapie nog dié dag in Noord-Ierland van winde ontslae raak help toe hy begin vermoed sy ruggraat ontwikkel nie normaal nie.

Hy en Donna was ook bekommerd oor 'n opvallende knop tussen Charlie se blaaie . . .

Hul vrese is bewaarheid toe progressiewe infantiele skoliose kort daarna by hul seuntjie diagnoseer is.

[caption id="attachment_139232" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

X-strale het getoon sy ruggraat het met 28 grade verkrom, maar dokters wou eers wag en kyk of dit nie vanself reguit sou begin groei nie. Helaas, terug by die dokter drie maande later moes die ouers verneem hulle seuntjie het 'n baie ernstige graad van skoliose: Sy ruggraat het toe reeds met 42 grade verkrom.

Charlie, vandag sowat 14 maande oud, sou onmiddellik 'n gipsbaadjie moes kry wat hy vier maande op 'n slag ononderbroke sou moes dra . . . tot hy oud genoeg was vir 'n harde, verwyderbare rugstut. En eindelik sou hy waarskynlik uiters pynlike chirurgie moes ondergaan waar staalpenne in sy rug ingeplant sou word.

Sou daar nie ingegryp word nie of die behandeling misluk, kon die verkromming ook Charlie se borswand misvorm en sy longe en ander organe vergruis word.

[caption id="attachment_139233" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Lees ook: Die wêreld se eerste baba met DRIE ouers word gebore

Donna-hulle het spoedig in die buiteland gaan hulp soek om die ergste te probeer afweer: "Toe ek Charlie se toestand begin navors, het ek van 'n gevorderde Amerikaanse gipsbaadjie-tegniek te hore gekom wat 'n verkromde ruggraat kon reguit maak, terwyl die behandeling in Noord-Ierland net die bestaande verkromming in plek sou hou en keer dat dit vererger.

"Ons het nie omgegee hoeveel dit sou kos nie." Hulle sou, indien nodig, "in 'n tent woon" om te verseker Charlie se behandeling slaag en dat hy hopelik daardie pynlike operasies kon vermy.

[caption id="attachment_139234" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Toe sy spoedig daarna met die Shriners-kinderhospitaal in die Amerikaanse stad Philadelphia skakel, het hulle gesê hulle sou Charlie met die "Methas Growth Guidance Casting"-proses behandel tot sy ruggraat reguit is, en ongeag of die gesin dit kon bekostig.

En so is die Ferris'e toe in April Pennsilvanië toe sodat Charlie sy eerste Methas-baadjie kon gaan aanpas.

Dis g'n maklike proses nie - hy moet dit dag en nag dra en kan dus ook nie byvoorbeeld gewoonweg gebad word nie. As die baadjie nat word en die struktuur verander, sal dit nie meer werk nie.

Lees ook: Pa maak hart oop oor vroeggebore wonderbaba: ‘Elke keer kom sy deur ’n donker stryd’

Dus maak ma hom in 'n wasbak staan en doen die nodige met 'n waslap. "En hy is heel skoon!"

Die baadjie moet elke sowat agt weke vervang word namate Charlie groei. Die Ferris-gesin was intussen hiervoor nog twee keer terug na Philadelphia - en dokters kon hulle onlangs die wonderlike nuus meedeel dat die behandeling blykbaar werk. Daar was reeds 'n verbetering van 10 grade.

"Dit lyk asof ons nou kwartpad na 'n reguit rug is!'' het Charlie se opgewonde en dankbare ma onlangs laat hoor.

Skoliose: *

  • Dis 'n abnormale S-vormige verkromming van die ruggraat.
  • Moontlike tekens daarvan sluit in 'n sigbare kromming in die ruggraat, met een skouer of heup hoër of meer prominent as die ander.
  • Klere sal dalk ook nie reg aan die lyf hang nie.
  • 'n Groot persentasie bejaardes het die een of ander graad van skoliose.
  • Kinders met dié toestand het dikwels nie behandeling nodig nie, want dis dan van so 'n matige aard dat die rug self regkom namate hulle groei.
  • In ernstige gevalle moet hulle egter onder meer 'n rugstut dra tot hulle ophou groei, en soms is chirurgie ook nodig om die ruggraat reguit te maak.

* NHS

Bronne: gofundme.com, Facebook, derrynow.com, orthospinenews.com, belfasttelegraph.co.uk