Dis die volmaakte dag vir ’n somermakietie en die son skitter in ’n wolkelose hemel hier waar ses vriende saamtrek vir ’n middag van lekker eet en lekker kuier. Dit is ’n heerlike vroeë viering van die feestyd ná wat vir die eregas, Jeremy Mansfield, ’n moeilike jaar was.

Maar dit is geen gewone Kersmiddagete wat vandag voorgesit word nie. Vergeet van kalkoen en ham – trouens, daar is glad nie vleis op die spyskaart nie, maar dit lyk nie of die klomp omgee nie. Inteendeel: Hulle lê weg aan die watertand-driegang- vegetariese Kersete wat die bekroonde sjef Walter Ulz spesiaal vir hulle in sy restaurant, Linger Longer in Sandton, berei het.

Al erken die ouens dat hulle in hul hart karnivore is, is hulle in die wolke oor die fyn geure wat hulle vandag geniet.

Daar is ’n koue avokadosop as voorgereg, die hoofgereg is gebraaide beet gestop met bokmelkkaas en voorgesit met truffelsous en polenta, porcini-ravioli en artisjokharte met wilde sampioene en dragon-suurlemoenbottersous.

Die nagereg is ’n dekadente driestuks, naamlik suurlemoenroompies, sjokolade-ganache en bessiemousse.

‘‘Ai, dis die lekker lewe,’’ sug Bongani Nxumalo, sanger en verkeersaanbieder op Jeremy se ontbytprogram, Rude Awakening, op 94.7 Highveld Stereo. Bongani en Rejoice, sy vrou met wie hy al 10 jaar getroud is, kan nie glo hulle eet so lekker met nie eens ’n krieseltjie vleis op die tafel nie. ‘‘Is julle seker dis artisjok?’’ vra hy en sluk nog ’n happie weg. ‘‘Ek het nie geweet dit kan so lekker smaak nie!’’

Revin John, aanbieder van die laatmiddagprogram Live at Drive, is ewe verbaas. Sy meisie, Juliet Newell, aanbieder van twee programme op The Home Channel en ook van die sakenuus op Summit TV, is self ’n voorslag in die kombuis, maar sy kan nie uitgepraat raak oor die kos voor haar nie.

Jeremy en sy vrou, Jacqui, glimlag net selfvoldaan. Dit was alles hul idee en hulle is in hul noppies dat dit so goed afloop.

‘‘Ek is ’n vegetariër,’’ sê Jacqui. ‘‘Ons vier altyd Kersfees sonder vleis. Vir my is dit ’n teenstrydigheid om dank te betuig maar jy neem die lewe van iets anders.’’

Sien Jeremy-hulle se vegetariese spyskaart in Huisgenoot van 24 Desember.