Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het ouers se klagtes weggewys van ’n veganis, oftewel streng vegetariese, onderwyser wat hul kinders se eetgewoontes verander en van God laat wegdraai, het Rapport berig.

Melanie Thomet, ’n Engels-onderwyser by Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier, is ’n “veganis en diereregte-aktivis”. Sy sê sy is nog ’n ateïs nog ’n Christen.

“Ek woon baie betogings vir diereregte by. Ek steek dit nie weg nie. Die kinders sien dit op my sosialemedia-blaaie en as hulle my daaroor vra, vertel ek hulle,” het Melanie gesê. Sommige ouers het na bewering geglo hul kinders se nuwe eetgewoontes laat hulle hul rug op Christenskap draai. Cynthia Herbst het haar seun twee dae uit die skool gehou en hom na ’n “profeet” in Hermanus geneem omdat hy ophou vleis eet het en sy rug op geloof gekeer het.

'My seun het ook nou besluit hy glo nie meer in God nie.'

“My seun het ook nou besluit hy glo nie meer in God nie. Dit het alles begin toe hy ophou vleis eet. Dit is hoekom ons twee van William Undi se dienste bygewoon het, net om hom te wys Jesus bestaan nog,” het Cynthia gesê.

’n Paar ouers het Melanie aan die hoof, Herman Mellet, verkla en hy het hul klagtes na die Wes-Kaapse onderwysdepartement aangestuur. Die departement het die klagtes van die hand gewys.

- Sapa