'n Tienerseun is Woensdag in 'n betongraf begrawe ná 'n vervalle gebou in die Baai op hom ineengestort het, berig Netwerk24.

Die gebou in Korsten in Port Elizabeth het vroeër 'n begrafnisonderneming gehuisves. Renaldo Burches (14), ook van Korsten, het op die toneel onder die puin gesterf. Sy vriend, wie se naam nie genoem mag word nie, het glo gesien hoe die gebou begin tuimel en het vir Renaldo gewaarsku.

"Ons het soos elke ander dag hier gesit en kap om bakstene te kry. Ek het vir Naldo geskree die een kant van die gebou is besig om in te sak en dat ons moet waai. Toe Naldo opkyk, het 'n muur hom plat geval," het die vriend vertel.

Renaldo en die vriend het gereeld saam bakstene uit die vervalle gebou gekap om die herwinde stene vir sakgeld te verkoop.

Volgens ao. Alwin Labans, polisiewoordvoerder, hou oorblywende strukture soos hierdie 'n hoë veiligheidsrisiko in, want inwoners probeer die los bakstene onder in die struktuur uithaal. Die gebou wat op Renaldo ineengestort het, gaan nou gesloop word. "Die ingenieurs is reeds op pad om met die sloping by te staan," het Alwin gesê.

Inwoners voel egter dié stap is te min, te laat.

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: