Larry Dietz, ’n luitenant by die Los Angeles-lykskouer, het gesê die man is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Nege mense is gehospitaliseer en een is nog in ’n kritieke toestand.

Die weerligslag is deel van ’n vlaag somer-donderstorms in Suid-Kalifornië, wat ongewoon is vir dié tyd van die jaar.

Steven Christensen sê sy vriend het lewensredders probeer help toe ’n swemmer vermis raak.

“Hy het in die water ingegaan en reg in hom vasgeloop,” vertel Steven. “Hy was op die seebodem met sy gesig na onder.”

Steven sê sy vriend het die man uit die water gehaal, waarna die lewensredders hom probeer bybring het voor hy in ’n trok weggery is.

Stuart Archer sê hy is getref terwyl hy op die strand vlugbal gespeel het.

“Skielik was daar hierdie groot flits en toe ’n slag. Dit het gevoel of iemand my teen die agterkop geslaan het,” het Stuart aan KABC-TV vertel. “Dit het langs die regterkant van my lyf afgegaan, en dit was asof my kuite begin kramp het, en toe val ek om. Toe ek opkyk, kon ek sien hoe al die ander mense ook omval.”

Ander brandweer-amptenare sê die meeste mense wat in die hospitaal opgeneem is, is net geskok en sal na verwagting herstel.

Die 14de persoon wat deur weerlig getref is, is ’n 57-jarige man wat op ’n gholfbaan in Suid-Kalifornië getref is.

- Sapa

Wat is die kanse?

Wat is die kans dat jy in jou leeftyd deur ’n weerligstraal getref sal word?

Volgens National Geographic is weerlig een van die grootste natuurverwante oorsake van dood in die VSA. As jy in die VSA woon, is jou kans om in enige gegewe jaar deur weerlig getref te word, sowat 1 uit 700 000. Die kans dat jy in jou leeftyd deur ’n weerligstraal getref sal word, is sowat 1 uit 3 000.