Magnus, ’n vier maande oue welpie van Spanje, is in aanhouding gebore en enkele dae later van sy ma geskei, volgens die diereliefdadigheidsorganisasie Let’s Adopt! Global. ’n Spaanse sirkusgeselskap het hom daarna as toeristeaantreklikheid gebruik en besoekers R260 gevra om ’n foto saam met hom te neem.

In ’n poging om Magnus se groei te vertraag het die sirkus se personeel hom doelbewus ondervoed en hom net ’n dieet gevoer wat uit jogurt en brood bestaan. Die sirkuseienaar het hom na ’n veearts geneem om uitgesit toe word toe hy siek raak.

Toe Spaanse beamptes van die mishandeling hoor, het hulle beslag gelê op die welpie en hom in die sorg van ’n plaaslike diereskuiling geplaas. Veeartse het daarna ontdek die welpie se vloeistofdieet het sy been- en spierontwikkeling vertraag en ’n lewensbedreigende toestand veroorsaak waarin sy slukderm so vernou het dat hy nie vaste kos kon eet nie.

Die veeartse het nie die geld gehad om ’n operasie uit te voer nie en toe by Let’s Adopt! Global om hulp aangeklop.

Die organisasie, in Southbridge, Massachusetts, het dadelik ’n geldinsamelingsveldtog vir Magnus begin en ingestem om vir die operasie te betaal wat op die ou end sy lewe sou red.

Magnus se gewig het sedert die operasie – een van verskeie wat hy in sy leeftyd sal moet ondergaan – van 11 tot 22 kg toegeneem, berig The Mirror. Hy eet al 1 kg opgesnyde hoenderborsies per dag in twee maaltye, maar sal vir die res van sy lewe chronies siek wees.

Dis onwaarskynlik dat Magnus ooit groot stukke vleis sal kan eet en sy etes sal altyd opgesny moet word. Hy sal nooit in die wildernis kan oorleef nie. Let’s Adopt! Global doen alles in hul vermoë om Magnus weer gesond te kry voor hy na ’n skuiling in Afrika oorgeplaas word.

Kyk hier na die ongelooflike operasie:

Bronne: Buzzfeed, WABC-TV