Niks kwel ’n honde-eienaar soos jou geliefde brak se lang gesig ná hy heeldag alleen tuis moes deurbring nie.

En hoewel honde vinnig vergewe, hoef Kapenaars nie dié somer hul viervoetige vriende tuis te los wanneer hulle die lang somerdae buite geniet nie.

Hier is ’n paar plekke waarheen jy dié somer jou hond kan saamneem op ’n uitstappie:

Parke

Die meeste Kapenaars, veral honde-eienaars, weet De Waalpark in Bo-Oranjestraat is veral ná werk ’n gewilde plek vir mense wat met hul hond gaan stap. Op Maandag 16 Desember kan mense hul geliefde hondekinders hierheen bring om op Kersvader se skoot te kom sit vir ’n foto. Dié foto’s sal teen tussen R10 elk en R115 vir ’n pak van vyf (in verskillende groottes) te koop wees. Jy sal dit betyds kry sodat jy jou geliefdes op 25 Desember ’n geseënde Kersfees daarmee kan toewens.

Nóg parke waar woefies welkom is:

  • Alphenpark (Constantia)
  • The River-rehabilitasiesentrum (Bishopscourt)
  • Ceciliawoud
  • Kromboompark (Claremont)
  • Deer Park (Vredehoek)
  • Vredehoek-steengroef (Vredehoek)

Onthou jy moet jou hond aan ’n leiband hou wanneer jy op ’n openbare plek met hom gaan wandel. Die meeste van die bogenoemde parke vereis honde moet te alle tye aan ’n leiband wees.

Restaurante

Jy kan dié somer jou woef ook bederf wanneer jy gaan uiteet. Hier is ’n paar restaurant waar Wagter welkom is:

  • Ons Huisie (Bloubergstrand)
  • Newport Deli (Seepunt)
  • Café Paradiso (Kaapstad)
  • Touch of Madness (Observatory)
  • The Foodbarn (Noordhoek)
  • Cape to Cuba (Kalkbaai)

Vir ’n volledige lys Kaapse restaurante wat honde toelaat, klik hier.

Strande

Wanneer die son heerlik skyn en jy jou lyf bietjie op die strand wil uitrek, kan jy jou brakkie na die volgende strande saamneem, mits hy aan ’n leiband is:

  • Graaff se getypoel
  • Capricorn
  • Nine Miles
  • Danger
  • Milton
  • Milton-getypoel

Jou brakkie mag sonder ’n leiband op dié strande baljaar:

  • Clifton se eerste strand
  • Betastrand in Bakoven
  • Sunset in Sea Point
  • Froggy Pond
  • Die middelste deel van Houtbaai-strand
  • Langstrand (Kommetjie)
  • Langstrand (Simonstad)

Klik hier om te sien op watter strande honde glad nie mag kom nie.

Onthou die volgende reëls oor honde-etiket wanneer jy Wagter êrens heen neem:

  • Ken jou hond se geaardheid. As hy geïntimideer word deur ’n klomp mense bymekaar, vat hom liewer na afgeleë plekke vir ’n uitstappie.
  • Tel Wagter se gemors op. Neem altyd ’n plastieksakkie saam wanneer jy jou hond na ’n openbare plek neem. Niemand wil in iemand anders se hond se slagysters trap nie. As jy terselfdertyd ’n paar mensvriende wil maak, neem ’n paar ekstra sakkies saam.
  • Maak jou hond eers reg. Niemand wil deur wildvreemdes in die openbaar bespring word nie. Dieselfde geld vir honde. Laat jou hond regmaak voor julle op uitstappies gaan.
  • Neem water saam. Sommige parke en restaurant sal graag ’n bak water vir Wagter uitsit, maar dis nie oral die geval nie. Maak seker jy neem ’n botteltjie water saam, veral as julle lank gaan uit wees.
  • Moenie aanneem dat almal honde-liefhebbers is nie. Veral kinders is dikwels bang vir honde; maak dus seker jy kan hom beheer.

Shané Barnard

Bronne: safindit.co.za, eatout.co.za, Cape Times, petfriendly.co.za, capetown.travel.co.za, peta.org