‘‘DIS oorlog,’’ hoor jy hier op die Dinsdagnamiddag in Beaufort-Wes se landbouskousaal waar mense van dié omtes hulle nou staal vir ’n groot geveg: liefhebbers van die Karoo in dié hoek, energiemaatskappye in daardie een.

Dis oorlog teen die petroleumreus Shell en twee ander maatskappye wat nou gas wil kom ontgin in hierdie merkwaardige deel van die wêreld, honderde miljoene jare oud en nog grootliks ongerep. Dit – so voel baie mense nou – sonder om werklik die mense van Suid-Afrika te ken in hul ambisieuse planne.

Met omgewingsgroepe en ander organisasies, die biljoenêrsakeman Johann Rupert en Nederland se prinses Irene wat hul teenkanting uitgespreek het, het die stryd veral in die laaste paar weke verhewig.

“The big stupid breeds by eating the future’’, “There’s no planet B’’ en sommer prontuit “Frack off Shell!’’ was van die slagspreuke by Shell se inligtingsvergadering ’n paar dae tevore in Nuweland, Kaapstad, waarheen talle omgewingsbewustes opgeruk het. “Fracking’’ is die naam van die uiters omstrede, potensieel besoedelende proses waardeur gasneerslae uit skalierots bevry sal word.

Daar in Nuweland is Shell goed geroskam: Mense is te min tyd gegee om op sy planne te reageer; baie grondeienaars is nie eens kennis gegee nie . . . Shell en sy planne word in dié stadium bloot nie vertrou nie.

Hier op Beaufort-Wes vandag loop die gemoedere en agterdog ewe hoog, soos by vorige vergaderings elders in die Karoo. “Stop fracking in our Karoo,’’ eis ’n banier bo die verhoog. Die groot kwelling hier in die Karoo is veral oor die besoedeling van ondergrondse water in die hidrobrekingsproses. Dis ’n proses wat nou verban is in talle lande en Amerikaanse state, of onder moratorium terwyl die gevolge eers behoorlik nagevors word.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 April 2011