Nes in ’n spanningsfliek het Suid-Afrika Woensdagmiddag asem opgehou om te sien of die Openbare Beskermer (OB) haar verslag oor beweerde staatskaping sou bekendmaak.

Pres. Jacob Zuma het eers alles in sy vermoë gedoen om dié verdoemende verslag van adv. Thuli Madonsela te keer, maar ondanks sy pogings is dit bekendgemaak.

Beteken die ernstige aantygings van korrupsie en omkopery noodwendig Zuma se einde? Hy is immers een van die glibberigste presidente wat die wêreld al gesien het. Ons steeks kers op by kenners met uiteenlopende opinies.

Dit is moontlik - Max du Preez

[caption id="attachment_143956" align="aligncenter" width="225"]Foto: Twitter Foto: Twitter[/caption]

“Ek dink dit is beslis een van die laaste spykers in Zuma se doodskis, maar of dit die heel laaste een is, kan niemand sê nie,” meen die politieke ontleder Max du Preez.

Hy sê die ANC sal moet besluit wat in hul beste belang is. “Hul kans om in die 2019-verkiesing sukses te behaal sal ernstig geknou word as hulle hulle nie van Zuma losmaak nie,” sê hy. “Tog kan hulle juis kies om nie op te tree nie omdat hulle bang is die ANC skeur en word verdeeld, sou Zuma waai.”

As Zuma voortgaan soos hy die afgelope elf maande het, is die kans goed dat hy nie teen einde 2017 nog in die amp gaan wees nie, voorspel Max.

“Hy het in Desember verlede jaar Nhlanhla Nene afgedank en weer aangestel; dan is daar die Nkandla-skandaal, die saga met die Guptas en die korrupsieklagte teen hom wat nog sluimer.”

Zuma besef dat hy op sy veiligste is terwyl hy president is en sal daarom aan dié amp vasklou. “Dit is moeilik om die dienende president tronk toe te stuur, veral omdat Zuma magspeletjies speel.”

Max meen daar is nog heelparty magtiges vir wie Zuma gunsies belowe het. “Daar is nog mense wat geld wil maak uit die kernkragkontrak en die Guptas soek waarskynlik ook nog iets.”

Maar terselfdertyd is daar ’n vloedgolf teenkanting, ook binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee, sê Max.

“Moontlik wag die ANC-binnekring om te hoor wat van die korrupsieklagte teen Zuma gaan word. As dit eers bekend is of hy aangekla word, kan hulle dalk dan vir hom sê dis nou tyd om te loop.”

Nie sommer nie - prof. Dirk Kotzé

[caption id="attachment_143958" align="aligncenter" width="214"]Foto: Who's Who SA Foto: Who's Who SA[/caption]

Thuli se verslag gaan nie tot veel verandering lei nie, sê prof. Dirk Kotzé, ’n politieke ontleder verbonde aan Unisa. “Hy het alles van Nkandla tot vanjaar se verkiesing en die jongste dramas rondom (die minister van finansies) Pravin Gordhan oorleef. Dis nie ’n waterskeiding dié nie.”

Mense moet onthou dat Zuma ses maande het om ’n kommissie saam te stel wat die bewerings in die verslag moet ondersoek en dat die bevindings in die verslag nie finaal is nie.

“Ek glo ook nie dat die Nasionale Vervolgingsgesag moeite gaan doen of haastig gaan wees om korrupsieklagte teen Zuma her in te stel nie.”

Iets wat sake wel nou vir Zuma warmer kan maak, is Gordhan se onthullings oor wat in die Guptas se banksake aangaan. Die Sentrum vir Finansiële Intelligensie het in ’n ondersoek ’n reeks ongerymdhede in die Guptas se bankstate opgemerk.

“Die inligting daarin kan plofbaar wees en as Zuma op grond daarvan aangekla word, kan iets daarvan kom, sou hy skuldig bevind word.”

Die kommissie wat Zuma moet aanstel, moet die OB se bevindings verder voer. “Alles in haar verslag is besonder verdag, maar is daar iets konkreets?” wil Dirk weet.

Ja, maar nie nou al nie – Theo Venter

[caption id="attachment_143960" align="aligncenter" width="300"]Foto: NWU-webtuiste Foto: NWU-webtuiste[/caption]

“Ek dink hierdie staatskapingsverslag is Zuma se swanesang, maar ons gaan ’n rukkie moet wag tot ons hom sien gaan,” sê Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Noordwes-universiteit.

’n Politikus soos Zuma is op sy gevaarlikste wanneer hy in ’n hoek gedryf word, want benoude katte gee benoude spronge, sê Theo.

“Sy posisie binne die ANC was tot onlangs byna onaantasbaar, maar dit het die laaste paar weke begin verander,” meen Theo. “Die parlement begin die SAUK-raad vasvat, Zuma het bloedneus gekry toe die aanklagte teen Pravin Gordhan laat vaar is en ANC-grootkoppe soos Jackson Mthembu begin hulle openlik teen Zuma uitspreek.”

Theo sê Jackson sou dit nie doen tensy hy nie ondersteuning binne die ANC het nie en voeg by dat Zuma se skielike onttrekking van sy aansoek om die OB se staatskapingverslag te keer, waarskynlik gebeur het danksy druk van die ANC.

“Hulle begin na hul eie belange omsien. As iemand bankrot speel, begin dit stadig, maar daarna tel dit vinnig spoed op.

"Ek vermoed dis wat met Zuma gaan gebeur. My voorspelling is dat die uurglas in Desember 2017 vir hom gaan leegloop.”