Terwyl Andrew Michaels die afgelope twee weke op vlug was, het Joey gevrees hy sou kom wraak neem, “want dit is ek wat die moord opgelos het”, vertel Joey, wat as stafverpleegster in Welkom werk.

Andrew is vandag (Vrydag) in die Kroonstadse hof aangekla weens die gru-moord op Martie Jordaan (56), met wie hy agt jaar in ’n saamwoonverhouding was.

Kroonstad se forensiese en K9-eenheid het haar lyk op 30 Oktober in ’n 2 m diep graf op die erf gevind, toegedraai in ’n kombers.

Maar Joey sê as sy nie “so op die polisie se nek gelê het” om die saak te ondersoek en ook self die verdagte gekonfronteer het nie, sou hy dalk vandag nog op vrye voet gewees het.

Sy en Martie, wie se erwe aangrensend is, ken mekaar al 25 jaar.

“Sy was ’n baie saggeaarde mens,” onthou Joey. “Sy het ook nooit weggegaan nie, maar net daar in haar tuin gewerk.”

Dit is juis omdat Joey Martie se bewegings so goed ken, dat sy sowat ses weke gelede onraad vermoed het toe sy besef sy het haar buurvrou lank laas gesien.

“Toe vra ek eendag verlede maand vir Andrew waar sy is, en hy kom toe met ’n storie dat sy by haar suster op Viljoenskroon kuier,” vertel Joey. “Toe kyk ek hom so en ek sê: ‘Man, jy lieg mos nou!’ Martie het nooit so lank gaan kuier nie.”

Intussen was Andrew besig om al Martie se meubels en klere stelselmatig op die dorp te verkwansel.

Volgens Joey het sy die polisie twee keer gebel – op 17 en 29 Oktober – om te kom ondersoek instel.

“Maar hulle het nooit in die huis ingegaan nie. Hy het altyd uitgehol en met hulle daar by die hek gepraat. Hy het elke keer ’n ander storie vertel en hulle het hom geglo, soos die storie dat sy nou op ’n gasteplaas in die distrik Brandfort werk.”

Joey sê sy het “in sy gesig” vir hom vertel “dis ’n nonsens-storie”.

“Hy het sy hande agter sy kop gesit en baie senuagtig gelyk.”

Kort daarna is Andrew nie meer by sy en Martie se huis gesien nie.

’n Paar dae later, toe Joey in die hoek van die erf oor die grensmuur loer, sien sy hoe die grond langs die bure se buitekamer insak.

“Toe sê ek vir my man, ek is seker Martie lê hier agter onder die grond.”

Sy het weer die polisie gebel en ’n bebloede tuinvurk, handskoene en slaapklere is in die buitekamer gevind. Daar was ook bloedspatsels teen die muur. Daarna is haar lyk gevind waar dit op erf begrawe is.

Nadat foto’s van Andrew in die media versprei is, het die polisie inligting opgevolg en hom op Dinsdag 8 November op Winterton in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

  • Bygewerk deur Marizka Coetzer