[post-slider] Tot nou was daar baie geheimsinnigheid rondom die presiese storielyn en rolverdeling van hierdie nuwe fliek wat vroeër vanjaar rondom Worcester verfilm is.

'Modder en Bloed vertel die storie van Willem Morkel.'

Modder en Bloed vertel die storie van Willem Morkel (Stian Bam), 'n Boerekryger en familieman wie se vrou en enigste kind tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Tesame met ander Boere-krygsgevangenes word Willem na die afgeleë St. Helena-eiland in die middel van die Atlantiese oseaan verban.

Daar kom Willem-hulle te staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), 'n vuurvreter van 'n imperialis met 'n onblusbare haat teenoor die Afrikaner.

Maar die krygsgevangenes span saam en daag die Britse soldate uit tot 'n rugbywedstryd wat uiteindelik lei tot 'n mate van vergelding.

Die rolprent spog met 'n indrukwekkende rolverdeling propvol plaaslike en internasionale akteurs, insluitend Bok van Blerk, Albert Maritz, Edwin van der Walt, Deon Lotz en Altus Theart. Van die internasionale akteurs sluit in Charlotte Salt (The Tudors) en Patrick Connolly (Inferno).

Sean Else, wat ook vroeër vanjaar die regie van 'n Man Soos My Pa hanteer het, sit in die regisseurstoel. "Die verfilming buite Worcester in die winter was rof, baie rof," vertel Sean. "Maar ek kan nie wag om hierdie storie met die hele wêreld te deel nie."

Modder en Bloed word in April aanstaande jaar uitgereik.

Besoek die film se webwerf vir meer inligting.