Die eerste ses dae van 2017 was reeds beter as die hele 2016. So sê die oud-Springbok Derick Hougaard.

[caption id="attachment_153229" align="alignnone" width="600"]Derick het sy 34ste verjaarsdag saam met vriende, insluitend Mareli Theron?, gevier. Foto: Facebook Derick het sy 34ste verjaarsdag saam met vriende, insluitend Mareli Theron?, gevier. Foto: Facebook[/caption]

Hoewel 2016 vir Derick sleg was en dié slegte jaar boonop geëindig het met ’n spinnekop wat hom op sy skouer gebyt het, is hy baie optimisties oor die jaar wat voorlê. Daarby het hy pas sy 34ste verjaardag gevier.

“My lyf voel nie jonk nie; ek voel 55. Die rugbyding het my gebreek,” sê Derick.

“Ek het so half ’n middeljarekrisis gekry op 34, maar ek weet 2017 gaan ’n wonderlike jaar wees.

“Ek gaan wegkyk van alles wat sleg is en konsentreer op dit wat goed is.

“Ek gaan meer op my vriende en familie fokus en meer by hulle uitkom.”

Derick het die jaar sommer op ’n goeie noot met sy vriende en familie begin toe hy eergister (Woensdag) sy 34ste verjaardag saam met hulle vier.

[caption id="attachment_153226" align="alignnone" width="600"]Derick se 34ste verjaarsdag is behoorlik saam met vriende gevier. Foto: Facebook Derick se 34ste verjaarsdag is behoorlik saam met vriende gevier. Foto: Facebook[/caption]

Hy erken hy was nie dié oggend lus om iets vir sy verjaardag te doen nie omdat hy nog half olik gevoel het weens die spinnekopbyt.

’n Goeie vriend het hom omgepraat en saam met nog ’n paar vriende het hulle die aand omgekuier in ’n restaurant in die ooste van Pretoria.

’n Vriendin van Derick het foto’s op Facebook geplaas van dié lekker gefuif en daarby geskryf: “Weereens geluk, buddy!!! Mag die jaar ’n grote wees! Dankie vir ’n lekker aand x.”

“Dit is soms net lekker om saam met vriende te wees wat jou dag vir jou spesiaal maak. Want jou verjaardag is die een dag wat net joune is, en dit is die een dag waarop jy spesiaal moet voel,” meen Derick.

Hy beplan om in Februarie ’n blaaskans te neem en onder meer by sy ouers op Piketberg te gaan kuier.

Hy was nie Kersfees by hulle nie omdat hy vir Desember met Jan Tuisbly se karretjie in Pretoria gery het. Sy tweelingseuns, Eliah en Daniël, wat einde verlede jaar hul derde verjaardag gevier het, was vir Kersfees by hom. Hy en sy twee karnallies het elke dan en wan tydens Desember ’n paar dae saam deurgebring.

Ná die kuier by sy ma en pa in die Swartland, beplan Derick om ook ’n Bolandse draai in die Paarl en op Stellenbosch te maak.

Daarby gaan hy vir ’n groot deel van die jaar in die Kaap wees vir werk.

Oor alles van 2017 is Derick opgewonde, want hy weet dit gaan ’n goeie jaar wees.