Die gewilde rymkletser uit die 1990’s, Vanilla Ice, is Woensdag gearresteer op aanklagte van huisbraak en diefstal nadat gesteelde goedere in sy huis gevind is.

Die “Ice Ice Baby”-sanger is betrap met onder meer ’n swembadpomp, fietse en verskeie ander items. Daar word geglo dat hy dit van ’n naburige huis gegaps het wat tans leeg staan nadat dit deur die bank teruggeneem is.

Vanilla Ice, wie se regte naam Robert Van Winkle is, het lanklaas ’n treffer gehad. Die laaste paar jaar het hy die doen-dit-self program “The Vanilla Ice Project” op Amerikaanse televisie aangebied waarin hy vervalle huise opknap en weer verkoop.

Hy is kort na sy inhegtenisname vrygelaat, maar hou vol dat die hele petalje ’n groot misverstand is.

“Ek is vol vertroue dat my eer ten volle herstel sal word,” het hy aan verslaggewers gesê.

Vanilla Ice was betrokke by die regruk van dié leë woning. Oogetuies sê hy het gehelp om van die huis se meubels te verskuif. Dit is nog onduidelik hoe die meubels toe by sy woning beland het.

Bronne: SAPA; TIME.COM; LATIMES.COM