Volgens mediaberigte het Hilary Crump in haar badkamer die lewe geskenk aan ’n gesonde babaseuntjie nadat sy kwaai maagkrampe by die huis begin kry het. Gelukkig vir Hilary was haar lewensmaat, Kal Ford, naby en kon hy die baba vang. Volgens Hilary was sy nie eers daarvan bewus dat sy swanger was nie.

Hilary was gelukkig dat Kal daar was, maar wat doen jy wanneer ’n vrou in kraam gaan en daar is geen hulp byderhand nie? Paramedici van Ambutek (wat noodhulpopleiding aanbied) deel ’n paar wenke:

  1. Ontbied ’n ambulans. Vind uit by watter hospitaal of mediese sentrum sy beplan om te kraam.
  2. Bereken die tyd tussen sametrekkings en hoe ver gedilateer sy is. As die tyd tussen sametrekkings twee minute of minder is, is die ma gereed om die lewe te skenk.
  3. As die baba se kop begin uit kom, moet jy die ma op haar rug laat lê met haar knieë uitmekaar. Gebruik kussings om haar gemaklik te maak.
  4. Probeer kalm bly en verseker die ma dat alles oukei gaan wees.
  5. Was jou hande en maak reg om die baba te vang. Gebruik antibakteriese seep of reiniger om jou arms mee te skrop, tot by jou elmboog. Dra rubberhandskoene as jy dit het.
  6. Kry ’n skoon kombers en handdoeke gereed vir die baba se koms.
  7. Moenie die baba se kop uittrek wanneer dit uitkom nie; ondersteun dit net.
  8. As die naelstring om die baba se nek gedraai is, probeer dit sagkens oor hul kop lig.
  9. Jy moet die baba gelyk hou met die plasenta of nageboorte sodat die baba goeie bloed- en suurstoftoevoer daarvan kry. As die baba hoër as die plasenta is, gaan die toevoer swak wees.
  10. Plaas die baba op die ma se bors sodra hulle uit is. Tik die voetsole liggies met jou vingers om seker te maak die baba haal asem; die baba moet huil.
  11. Moet eerder nie die naelstring sny voor die paramedici opgedaag het nie.

-Katlego Mkhwanazi

Bron: Daily Mail