WAAR elders in die wêreld?

Stel jou voor ’n bonte fees van sokker-gekkes met reuse plastieksonbrilrame op die gesig en beskilderde veiligheidshelms op die kop, midde-in die frenetiese gebulk van derduisende Vuvuzelas (op 128 desibels luider as ’n kettingsaag) – en jy weet jy kan net in Suid-Afrika wees.

Ja, dis die Wêreldbeker Suid-Afrika-styl soos net ons dit kan doen.

Net in ’n land met ’n kaleidoskoop van kulture sal ’n Kaapse pizzaplekeienaar so dapper wees om buite sy eetplek te belowe: “Gratis pizza lewenslank as Bafana die Wêreldbeker wen.” En sommer vir die lekkerte kry elke gas ’n gratis bier vir elke Italiaanse of Bafana-doel.

“Kaapstad! Manenberg! Kom girl, ons gaan Durban toe en ons maak sommer ’n draai in Johies,” skree die guardtjie uit Boeta se minibustaxi. “Ons vra nog altyd net R5 fare al is die Ball hie.”

Kaapstad word oornag kosmopolitaans en Seepunt se burgersentrumsaal het skielik Casa Little Brazil geword, jolplek van die Brasiliane. ’n Parkeergarage in Loopstraat is die Mexican Shebeen . . .

In Newtown in Johannesbrug pryk reuse foto’s van Bafana-ondersteuners teen die Nelson Mandela-brug, in Sandton is blink glasgebou in reuse Suid-Afrikaanse vlae omhul en met sokkerballe beplak, en oral wapper vlae wat aankondig: Wen of verloor, ons is trots Suid-Afrikaans!

Tussendeur is daar koop-goed vir Afrika, alles met ’n sokker-kinkel. Collage-skilderye township-huisies het skielik sokkerstadions en sokkerspelers op straat bygekry, daar is Masaai-handsakke uit Kenia met ’n sokkerbalmotief, sokkerspelertjies gekerf uit dorings uit Nigerië, Kersbome vol sokkerspelertjies van krale en vilt en natuurlik daardie puik bykomstigheid vir die Afrika-son, die sokkersambreelhoed bekend as die sundela. Op pres. Jacob Zuma s’n pryk die Suid-Afrikaanse vlag en Bafana-embleem.

Nee, nêrens anders in die wêreld nie!

Bespreek vir Skouspel!

Ekstra bron: http://sundela.com, www.sockzela.com, marketing.bizcommunity.com, www. beta.mnet.co.za/carteblanche