As ons nou eerlik is, weet ons Bafana Bafana staan nie ’n kat se kans om vanjaar die Fifa-Wêreldbekersokkertoernooi te wen nie (dis nou natuurlik omdat hulle nie eers deelneem nie...) En anders as in 2010 kan Suid-Afrikaners nie die wedstryde in een van die blinknuwe stadions gaan kyk nie. Maar dit beteken nie jy hoef die pret van die Wêreldbekersokkertoernooi mis te loop nie!

Hier is drie maniere waarop jy vir die toernooi gees kan vang:

  1. Kies ’n span

    Vanjaar ding 32 spanne in 8 groepe om die gesogte beker mee. Kry ’n groep vriende of kollegas bymekaar en kies elkeen ’n span om te ondersteun. Julle kan selfs geld wed op watter span op die ou end koning gaan kraai.

  2. Kyk die wedstryde

    Sokker is nie verniet die sportsoort met die meeste aanhangers ter wêreld nie. Nooi ’n paar vriende om saam met jou die wedstryde te kyk of gaan saam na ’n kroeg of restaurant waar die wedstryde uitgesaai word.

  3. Hou tred met Twitter

    Bly op hoogte van alles wat met die wêreldbeker verband hou deur #WorldCup op Twitter dop te hou. Jy kan selfs jou span op Twitter kies en al die spelers volg! Klik hier om op Twitter gees te vang.

Die openingseremonie vind vanaand om 20:00 plaas en die eerste wedstryd, tussen Brasilië en Kroasië, skop net daarna om 21:50 af.