Paris Jackson het glo geskree “ek wens my pa was hier” en gesê sy wil haar eie lewe lei voor sy haar lewe probeer beëindig het.

Die 15-jarige dogter van Michael Jackson het glo Woensdag 5 Junie ná ’n hewige rusie met haar familie haar polse gesny en ’n oordosis pille gedrink. Sy het gekla sy wil haar eie lewe lei nadat sy gehoor het sy mag nie die volgende dag ’n Marilyn Manson-konsert bywoon nie.

’n Bron het gesê: “Paris voel niemand in haar familie verstaan haar meer nie. Sy voel eensaam.

“Tydens die woordewisseling Dinsdagaand het sy gesê haar pa het haar beter as enigiemand anders geken en geweet hoe dit voel om in die kollig groot te word.”

Party mense dink Paris se optrede was ’n hulpkreet. Sy word blykbaar by die skool afgeknou en moet binnekort in die Jackson-familie se hofsaak van R400 miljoen teen AEG getuig. Die familie hou dié konsertpromotor vir die popkoning se dood in 2009 verantwoordelik.

’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Paris is deur hel. Ons dink nie sy wou haar lewe beëindig het nie. Ons voel dit was ’n hulpkreet.”

Die tiener is tans in ’n Los Angeles-hospitaal en word 24 uur van die dag dopgehou. Haar biologiese ma, Debbie Rowe, en tannie La Toya Jackson het haar gister besoek.

Nadat berig is Paris was in ’n twis gewikkel omdat sy nie Manson (44) se konsert kon bywoon nie, het die sanger gister na haar uitgereik.

Hy het gesê: “Ek hoop jy voel beter. Jy kan enige tyd wanneer jy wil op my gastelys wees.”