Fanie se vrou, Thea, en kinders, Carlia en Philip, is op 3 Desember 2015 in hul onderskeie slaapkamers doodgeskiet.

Lees ook: Skokkende besonderhede oor die Vanderbijlparkmoorde kom aan die lig

Een van die aspekte wat Erik uitgelig het, is die kwessie dat die Libanese na bewering al die leidrade sou agterlaat ná wat hy as die “wreedste denkbare moorde” beskryf.

 

Fanie het ook verskillende weergawes aangebied oor wat die aand gebeur het, asook hoe die vuurwapens eintlik in die plafon beland het.

Erik het gesê die 9 mm-pistool was in die hangkas. Dit beteken die Libanese moes dit daaruit haal. Maar terwyl hulle gewapen is, het hulle niks aan Thea gedoen nie. Hy wil ook weet hoe die Libanese sou weet waar die wapen gehou is. Hulle sou vervolgens dan ook moes weet waar Fanie se oranje handskoene in die bakkie was.

Hy het die Libanese se beweerde optrede as absurd bestempel. Dit sou beteken hulle het ná die moorde hul tyd geneem om die vuurwapens te versteek.

DNS-toetse het ook bewys die handskoene het wel aan Fanie behoort. So ook bloed wat op ’n baadjie, kussing en sokkies gevind is. Thea se bloed is op die tuisgemaakte knaldemper (die aangepaste oliefilter) gevind.

Philip se bloed is gevind op Fanie se sokkie, wat daarop dui dat hy wel in sy seun se kamer was.

Met betrekking tot Fanie se beserings het Erik gesê selfs Fanie se neef Jaco van Wyngaardt het hom weerspreek.

Hy het ook gesê Fanie se ma, Joan van Wyngaardt, het haar getuienis oor sy beserings ná die voorval doelbewus aangepas.

Erik het gesê Fanie het die moorde fyn beplan, om die een of ander duister rede wat net aan hom bekend is.
Hy het die regter gevra om Fanie skuldig te bevind op drie klagte van moord met voorbedagte rade en ook regsverydeling.
Erik wil ook hê hy moet skuldig bevind word aan die onwettige besit van sy vrou se .38-rewolwer en haelgeweer.
Adv. Roelof van Wyk, vir Fanie, betwyfel die ballistiese kenner se bevindings.
Hy het voorts gesê al kan hy nie sê Fanie was ’n goeie getuie nie, beteken dit nie Fanie het die moorde gepleeg nie.
Uitspraak sal Dinsdag, 1 November 2016, gelewer word.