Adv. Erik van der Merwe, vir die staat, het Fanie du Preez Donderdag in die Vereeniging-hof as ’n “oneerlike getuie” beskryf. Fanie word van die moord op sy vrou en twee kinders aangekla.

Erik het nie doekies omgedraai nie. Hy het gesê Fanie se getuienis wemel van onwaarskynlikhede en dat baie daarvan “bog” is. Hy het die hof gevra om die beskuldigde se getuienis oor sy bekentenis te verwerp.

Adv. Roelof van Wyk, wat vir Fanie optree, het op sy beurt gesê heelwat faktore het die bekentenis beïnvloed en ’n besluit moet daaroor geneem word.

Vroeër vanoggend

Joan van Wyngaard, Fanie se ma, was vanoggend in die getuiebank. Sy het bevestig sy en haar man het by Fanie gewoon.

Joan besoek haar seun glo weekliks in die gevangenis. Op regter de Vos se navraag oor haar seun se medikasie, het sy getuig dis vir sy “klapvoete”, waar die binnespiere styf is en die buitespiere swak. Hy was vier maande oud toe hy ’n operasie daarvoor ondergaan het, maar loop steeds mank.

Joan het getuig a.o. Alberts het nie gesê sy mag voor die bekentenis Fanie se medisyne vir hom neem nie. (Fanie het gister tydens die binneverhoor te kenne gegee hy was nie by sy volle positiewe toe hy die bekentenis afgelê het nie.) Sy het ook ontken dat die medikasie enige impak op sy verstand sou hê.

Fanie se selmaat, Jonathan Blom, het ook Donderdag getuig. Hy is op 3 Desember 2015 in hegtenis geneem vir die beweerde besit van dagga.
Jonathan het petrolgeld ontvang om Dinsdag en Woensdag te getuig.
Buiten botsende getuienis deur Fanie en Jonathan oor ’n koppie in hul sel, het hulle mekaar ook weerspreek oor hoe Fanie in die sel vasgemaak is.
Daar is ook gesê dis nie Alberts wat Fanie geboei het nie; Van Zyl het dit ter wille van ander rolspelers se veiligheid gedoen.

Roelof betwyfel die antwoorde wat Fanie onder kruisverhoor gegee het.
Hy het ook gesê Fanie het kalm gelyk terwyl hy sy bekentenis teenoor landdros Lourens afgelê het.