Fanie du Preez het Woensdag in die Vereeniging-hof die een ná die ander opspraakwekkende bewering gemaak. Hy het getuig a.o. Alberts het hom aangesê om Libanese te blameer vir die moord op sy vrou en kinders.

Dieselfde polisieman het hom glo op 4 Desember van 08:00 tot 09:30 voorgesê en van papiere uit sy sak voorgelees wat hy aan die landdros moet sê.
Regter Hennie de Vos, wat uitspraak moet lewer oor Fanie se bekentenis, het gevra: “U erken u het u dierbare vrou en kinders geskiet, net om borgtog te kry?” Carlia du Preez (17) is op 11 Desember 2015 begrawe nadat sy ses keer geskiet is.

Die saak word Donderdag voortgesit.

Vroeër vandag

faniemain

Toe die moordbeskuldigde Fanie du Preez Woensdag die Vereeniging-hof binnekom, het hy weer voetboeie aangehad. Hy word verdink van die moord op sy vrou en twee kinders.

A.o. Peter van Zyl het vanoggend die kettingboeie om Fanie se bene gesit. By navraag oor hoekom die ander gevangenes nie ook voetboeie dra nie, het Peter geantwoord Fanie was al mens wat weens ’n ernstige oortreding aangehou word. Lees ook: Fanie du Preez se 14-jarige moes waarskynlik in pistoolloop vaskyk voor doodskoot

Hierna het Fanie as deel van die binneverhoor oor sy bekentenis getuig. Hy het gesê hy wou destyds sy ma bel, maar dis geweier omdat hy glo net mondelings, en nie op rekord nie, in hegtenis geneem is.
Fanie het getuig ene a.o. Alberts het te kenne gegee hy sou op borgtog vrygelaat kon word as hy ’n bekentenis aflê.

Die beskuldigde is deur adv. Erik van der Merwe betig oor sy woordspeling.
Fanie het wel erken hy het vir die landdros gejok, maar het die skuld op a.o. Alberts gepak: “Hy het gesê ek moet dit doen.”

Toe sy verklaring voorgelees is, het Fanie gespanne gelyk.

A.o. Eloise Reynolds van die polisie se forensiese afdeling het ook vroeër vandag oor DNS-getuienis getuig. Sy het gesê die DNS wat op die handskoene gevind is, is wel Fanie s’n. Daar was ook drie kolle bloed op sy kouse.