’n Emosionele toneel het hom in die landdroshof in Vereeniging afgespeel waar Fanie du Preez vandag (Maandag, 10 Oktober 2016) op aanklag van die moord op sy vrou, Thea, en twee kinders, Carlia en Phillip verskyn het.

Na wat berig word, was sy eerste woorde daardie noodlottige oggend aan die konstabel Raphael Chopotso van die polisie: "Hierdie familie is weg."
Fanie het wel skuldig gepleit op die besit van ’n 9 mm-pistool, maar terselfdertyd onskuldig gepleit op die besit van ammunisie en vir die moord op sy vrou en kinders.
Die trane het tydens middagete geloop toe hy sy ma, Joan van Wyngaard, groet.
Van Carlia se vriendinne, leerders aan Hoërskool Driehoek, het die verrigtinge op Maandag bygewoon.
Van die getuienis wat Maandag aangehoor is, dui daarop dat geen ander voetspore buiten dié van konstabel Chopotse se voetspore, op die erf gevind is nadat die drie gesinslede vermoor is nie.
Na afloop van die dag se verrigtinge, het sy ma hom omhels.

Wat het vroeër gebeur?

Omstreeks 04:00 Donderdagoggend, 3 Desember 2015, het Fanie du Preez na bewering sy vrou, Thea (43), en hul twee kinders, Carlia (17) en Phillip (14), in Vanderbijlpark doodgeskiet.

Carlia is ses keer geskiet, drie skote is op Phillip afgevuur, waarvan een hom in die kop getref het. Thea het twee koeëlwonde aan haar kop gehad.

Die gebeure daardie oggend het die Du Preez-gesin se hond, wat glo Fanie se skaduwee was, “mal” gemaak. Hy is van kant gemaak en veras en saam met Philip begrawe.

Die hof het destyds tydens die hofaansoek gehoor Fanie het vir die polisie drie verskillende weergawes van die gebeure die aand waarop sy gesin vermoor is, gegee.

Eers het hy drie inbrekers vir die moorde blameer. Toe hy egter ná hierdie weergawe van die polisiekantoor af terugkeer, het hy weer Nigeriese dwelmbase vir die misdade blameer.

’n Dag later het hy sy weergawe weer aangepas en toe Libanese dwelmbase die skuld gegee.

In ’n verklaring wat Fanie destyds afgelê het, het hy beweer die Nigeriese en Libanese dwelmbase het hom met ’n vuurwapen aangehou, vir hom ’n vuurwapen gegee en gedwing om sy gesin te vermoor.

Fanie het aan die beampte gesê sy dogter, Carlia, het hom probeer keer en gesmeek “Nee, Pappa, nee”, en dit is hoekom sy deur haar hand geskiet is.

Sy was wakker toe hy haar doodgemaak het.