Wel, die Wêreldeierkommissie het die tweede Vrydag van Oktober tot Wêreldeierdag verklaar.

Volgens die Wêreldeierkommissie se webtuiste, www.internationalegg.com, is daar omtrent ’n dosyn redes waarom die eier ’n dag verdien.

’n Eier is baie veelsydig. Watter ander kos kan gebak, geroer, gekook en geposjeer word? Daarby kan ’n eier geskei word. Met eierwit kan ’n  mens ’n heerlike meringue maak, terwyl jy met eiergele souse en koeke ryker kan maak.

Eiers is ook baie gesond en het ’n hoë proteïeninhoud. Dit het ook vitamiene A, D, E en K in wat goed is vir die liggaam.

Hier is 10 interessante feite oor eiers wat jy nie geweet het nie:

  1. Howard Helmer, ’n voormalige verteenwoordiger van die Amerikaanse Eierraad, het drie Guinness World Records agter sy naam: vinnigste omeletmaker (427 omelette binne ’n halfuur), vinnigste omelet (42 sekondes van heel eier tot omelet) en vinnigste omelet omdraai (30 keer binne 34 sekondes).
  2. Sonya Thomas hou die wêreldrekord vir die meeste hardgekookte eiers eet. Sy het dié rekord in 2003 opgestel toe sy 65 eiers binne ses minute en 40 sekondes afgesluk het.
  3. Eiers met twee gele word gewoonlik gelê deur henne wat ekstra-groot eiers lewer. Dit gebeur meestal omdat die hen se eierproduksiesiklus nog nie gesinchroniseer is nie.
  4. Eierwitte kan gebruik word vir gesigsbehandeling terwyl eiergele in sjampoe, opknapper en, soms, seep gebruik word.
  5. ’n Eier se dop is gewoonlik ’n aanduiding van die soort hen wat die eier gelê het: Henne met wit vere is geneig om wit eiers te lê terwyl henne met rooi vere bruin eiers lê.
  6. ’n Pas gelêde eier se temperatuur is sowat 40 °C.
  7. Die deursneemens eet 173 eiers per jaar. Die deursnee-Amerikaner eet 250 eiers per jaar.
  8. Veertig persent van alle eiers word in China geëet.
  9. Die deursnee-hen lê tussen 250 en 270 eiers per jaar. Sommiges lê meer as 300 eiers per jaar.
  10. Dit duur 25 uur vir ’n hen om ’n eier te lê van die eerste fase van ovulasie tot die eier gelê is. Haar lyf rus dan ’n halfuur tot die proses van vooraf begin.

Bronne: www.incredibleegg.org; www.express.co.uk;  www.lifehack.org; www.communitychickens.com.