Hoogtepunte uit die geskiedenis op hierdie datum:

  • 1811 – Die Britse Regency-wet word van krag, waarvolgens die prins van Wallis tydens koning George III se tydelike waansin die prins regent word.
  • 1885 – Die staat Kongo word die persoonlike eiendom van België se koning Leopold II.
  • 1887 – Verdi se opera Othello première in La Scala in Milaan, Italië.
  • 1917 – Meksiko word ’n federale republiek met 28 state; die Amerikaanse kongres voer ’n wet deur wat die immigrasie van Asiërs streng beperk, al is president Woodrow Wilson daarteen gekant.
  • 1971 – Die Amerikaanse Apollo 14 se ruimtevaarders land op die maan.
  • 1990 – Die Sowjetunie se pres. Mikhail Gorbatsjof sê in ’n volle vergadering die Kommunistiese Party moet sy monopolie op die mag staak.
  • 1991 – Irak, onder aanval van Amerika en sy bondgenote, staak brandstofverkope aan sy burgers.
  • 1999 – Die 80-jarige pres. Nelson Mandela van Suid-Afrika lewer sy laaste groot toespraak in die parlement.
  • 2001 – Vier mans word verhoor in New York oor die bomaanval in 1998 op twee Amerikaanse ambassades in Afrika waarin 224 mense gesterf het; minstens nege mense word beseer in ’n ontploffing in ’n Moskouse duikweg.
  • 2005 – Navo-helikopters kom af op die wrakstukke van ’n Afgaanse vliegtuig op ’n ysige berg oos van Kaboel. Beamptes twyfel of enige van die 104 passasiers die ongeluk oorleef het.
  • 2009 – Terwyl die Amerikaanse vloot toekyk, jaag Somaliese seerowers weg met ’n losprys van sowat R35,7 miljoen vir ’n Oekraïnse vragskip vol wapens. Dit beëindig vier maande lange onderhandelings wat die wêreld se aandag gevestig het op Somalië se wettelose kus.