Hoogtepunte in die geskiedenis op hierdie dag:

  • 1437 – Aspirant-troonrowers vermoor koning Jakobus I van Skotland in die Skotse stad Perth.
  • 1942 – Die Japannese val tydens die Tweede Wêreldoorlog die eiland Bali in Nederlands-Oos-Indië binne.
  • 1962 – Die ruimtereisiger John Glenn word die eerste Amerikaner wat om die aarde wentel in die kapsule Friendship 7 Mercury.
  • 1986 – Rusland stig die Mir-ruimtestasie.
  • 1990 – Engeland maak bekend hulle sal die verbod op nuwe beleggings in Suid-Afrika eensydig ophef.
  • 1993 – ’n Man wat aandring op ’n vlug na Amerika, gebruik handgranate om ’n Russiese passasiersvliegtuig na Estland en toe na Swede te kaap, waar hy hom aan die polisie oorgee.
  • 1996 – Genl. Hoessein Kamel, ’n skoonseun van pres. Saddam Hoessein, keer na Irak terug nadat hy na Jordanië uitgewyk het. Hy word ’n paar dae later saam met sy familielede om die lewe gebring.
  • 2002 – ’n Brand ontstaan op ’n stampvol trein wat van Kaïro na Luxor in die suide van Egipte onderweg is. Altesaam 373 mense sterf en 60 word beseer in die grootste treinramp in dié land se geskiedenis.
  • 2007 – Drie ultra-uithou-atlete neem deel aan die eerste wedloop oor die grootste woestyn ter wêreld. Die Amerikaanse drawwer Charlie Engle (44), die Kanadees Ray Zahab (38) en Taiwannees Kevin Lin (30) lê die moordende 6 400 km in die Sahara-woestyn binne minder as vier maande af.
  • 2008 – Die ruimtetuig Atlantis en sy bemanning keer na die aarde terug aan die einde van ’n reis van 8 miljoen km wat gekenmerk is deur die suksesvolle aflewering van ’n nuwe Europese laboratorium by die internasionale ruimtestasie.