Hoogtepunte uit die geskiedenis op hierdie datum:

1587 – Engeland se koningin Elizabeth I teken ’n lasbrief vir die teregstelling van Maria, die koningin van Skotland.

1775 – Die gepeupel in Boheme kom in opstand teen onderdrukking.

1881 – Die eerste tekens van ’n nasionalistiese beweging is sigbaar in Egipte toe militêre offisiere ’n opstand organiseer.

1896 – Kreta volg Griekeland se voorbeeld en begin ’n revolusie teen Turkye.

1899 – Die Amerikaanse vlag word gehys oor Guam, ’n eiland in die Stille Oseaan wat voorheen onder Spaanse beheer was.

1908 – Portugal se koning Carlos I en die kroonprins word vermoor in Lissabon; Manuel II word koning.

1917 – Duitsland gaan hul duikbote toelaat om die handelskepe van neutrale lande aan te val wat op pad is na Brittanje. Dit lei tot Amerika se toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog.

1924 – Brittanje erken die Kommunistiese regering van die Sowjetunie.

1934 – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) word gestig.

1935 – ’n Anglo-Germaanse konferensie word gehou in Londen om Duitsland se herbewapening te bespreek; Italië stuur soldate na Oos-Afrika.

1946 – Trygve Lie, ’n Noorweegse sosialis, word herkies as sekretaris-generaal van die Verenigde Volke; die Republiek van Hongarye word uitevaardig.

1991 – Suid-Afrika se pres. FW de Klerk kondig aan hy gaan alle oorblywende apartheidswette skrap.

1992 – Amerika se pres. George Bush en Rusland se pres. Boris Jeltsin onderteken ’n Camp David-verklaring dat Rusland en Amerika mekaar nie as vyande beskou nie. Dit beëindig die Koue Oorlog.

1995 – Riviere wat oorstroom laat byna 250 000 mense in Nederland vlug.

1996 – Pres. Jacques Chirac kondig aan Frankryk het sy kerntoetse finaal gestaak.

1997 – ’n Vliegtuig van Air Senegal met Europese toeriste aan boord stort neer in Senegal. Twintig mense sterf en 30 word beseer.

2003 – Die Amerikaanse pendeltuig Columbia breek in stukke toe dit die aarde se atmosfeer binnekom ná ’n 16 dae lange wetenskaplike sending. Die sewe bemanningslede aan boord sterf en afvalstukke van die pendeltuig val oor Texas en Louisiana.

2004 – Amerika se pres. George W. Bush swig onder toenemende politieke druk en onderneem dat hy opdrag sal gee vir ’n ondersoek na foute in die Amerikaanse intelligensiediens wat gelei het tot die inval in Irak.

2013 – Hillary Rodham Clinton bedank ná vier jaar as Amerika se minister van buitelandse sake – in dié tyd het sy ’n rekord aantal lande besoek. John Kerry vervang haar.