Jy wil jou loopbaan onderbreek sodat jy vir eers heeltyds ma kan wees. Wat moet jy oorweeg voor jy dié groot besluit neem?

Kind grootmaak stel hoë eise aan jou. Vroeë kinderontwikkeling, huiswerk en buitemuurse aktiwiteite hou ouers elke dag ure lank besig en dan wil hulle ook ’n tydjie inruim vir sommer net speel en gesels. Daarom besluit baie ouers, veral ma’s, om hul loopbaan eers opsy te skuif en tuis te bly by hul kroos.

Maar watter implikasie het dit vir jou gesin, jou loopbaan en jouself? Ma’s in ons SuperMa-gemeenskap deel hul ervarings.

’n Skok vir die begroting

Met die geboorte van haar tweede kind het Karen Comyn van Johannesburg besluit om heeltyds ma te wees. “Ons kan dit nie regtig bekostig dat ek nie werk nie; party maande gaan dit broekskeur,” sê sy. Hul gesin is nou net van haar man se inkomste afhanklik.

“Ons het besef dit sou finansieel moeilik wees en het waar ons kon aan ons begroting gesny. Tog is dit soms swaar as ek nie die kinders met geskenke kan bederf nie.”

Jou gesin se begroting is ’n baie belangrike faktor wanneer een ouer dit oorweeg om op te hou werk, sê Annie Jollivet de Oliveira, ’n maatskaplike werker en berader van Kaapstad.

“Dis nie wys om ’n tuisbly-ouer te wees as dit gaan beteken jou gesin gaan finansieel baie swaarkry nie,” waarsku sy.

Voor jy ’n tuisbly-ouer word, moet jy seker maak jou gesin is voorbereid daarop om met net een inkomste klaar te kom. Gaan julle dieselfde lewenspeil kan handhaaf? Indien nie, is julle bereid om sekere luukshede op te offer? Maak ook seker julle kan aanhou spaar vir jul aftrede.

As julle dit nie kan bekostig dat een ouer ophou werk nie, kan hy of sy dalk liewer deeltyds werk of ’n klein onderneming uit die huis bestuur, sê Annie.

Sal ek weer werk kry?

Ouers besluit dikwels om tuis te bly terwyl hul kinders nog klein is, maar wil teruggaan werk toe sodra hul kinders begin skoolgaan. Ná hul dogter se geboorte het Alida Erasmus en haar man uit die Kaap na Merweville in die Karoo verhuis. Sy het vir eers haar loopbaan in die toerismebedryf laat vaar. “Sodra ons dogtertjie kleuterskool toe gaan, sal ek my loopbaan hervat. Ek bly ingelig oor toerisme in Suid-Afrika en gaan beslis weer in die bedryf werk,” sê sy.

“Jy moet ’n toekomsplan hê voor jy besluit om ’n tuisbly-ouer te word,” sê Annie. “Dink aan die uitwerking van jou besluit op kort, medium- en lang termyn en beplan daarvoor.”

As jy ’n paar jaar uit die arbeidsmark verdwyn het, kan dit jou kans belemmer om weer werk te kry. Tog leer ouerskap jou ander mensevaardighede, soos om ’n goeie luisteraar te wees en om verskeie take gelyktydig te verrig. Dit kan ’n bate wees wanneer jy weer wil begin werk, sê Annie.

Sorg dat jy nie verroes raak nie. Probeer jou kwalifikasies en vaardighede deeltyds gebruik as dit moontlik is. Alida is byvoorbeeld deeltyds fotograaf en hoop sy sal mettertyd met dié stokperdjie kan geld verdien.

Eensaam by die huis

Toe haar man ’n werkaanbod op ’n ander dorp aanvaar, het Sadeya Pillay van Port Elizabeth ’n tuisbly-ouer geword. “Ek kon nie my loopbaan en ons drie kinders se naskoolse aktiwiteite baasraak nie. Boonop het ek ’n ses maande oue baba by die huis gehad,” vertel sy.

Nou kan sy na hartelus skoolgeleenthede bywoon, en die geselsies in die motor wanneer sy haar kinders rondkarwei, gee haar baie insig in hul lewe. Tog kan jy as tuisbly-ouer maklik eensaam raak, veral as jou man in die week op ’n ander dorp werk.

“Ek mis grootmensgeselskap vreeslik baie,” erken Sadeya. “Ons het altyd die lekkerste gesprekke op kantoor gevoer. ’n Mens raak geheg aan jou kollegas.”

Maak tyd daarvoor om saam met ander volwassenes te kuier, is Annie se raad. “Sluit by ’n kunsklas aan of begin met ’n nuwe vorm van oefening, soos fietsry of Pilates.”

Vra jou maat om vir ’n rukkie ’n oog oor die kinders te hou sodat jy tyd vir jouself kry, stel sy voor. “Gee jouself toestemming om dinge te doen wat jy geniet.”

-Shané Barnard

Ekstra bronne: huffingtonpost.com, dailymail.co.uk, wisebread.com