WANNEER ’n mens aan Afghanistan dink, is dit beslis nie die sport krieket wat in jou gedagte opkom nie. Maar dié oorloggeteisterde land het verlede Oktober geskiedenis gemaak deur vir die heel eerste keer vir die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2015 in Australië en Nieu-Seeland te kwalifiseer.

In ’n land waar sokker die gewildste sport is, het die krieketgogga die inwoners eers in die 1980’s begin byt toe vlugtelinge kampe in die krieketmal-buurland Pakistan gevestig het. Hulle het gesien hoe die Pakistani’s in die strate en op oop stukke grond krieket speel en hulle begin nadoen. Die vlugtelinge wat in die nag in fabrieke gewerk het, het in die dag wedstryde teen mekaar begin speel.

Uiteindelik het een van die vlugtelinge, Taj Malook, in die negentigs van die een vlugtelingkamp na die volgende gereis om die beste spelers te identifiseer. Teen 1995 is die Afghanistanse Krieketvereniging gestig.

Afghanistan het al twee keer in die Twintig20-Wêreldtoernooi gespeel, maar om ’n Wêreldbekerkans te kry, het uiteindelik ’n droom van byna drie dekades bewaarheid.

Deur Alet van Zyl

Bygewerkte bronne: Bbc.co.uk; Laureus.com, Facebook.com.