Ons het hom leer ken as 'n groepslid van die gewilde Afrikaanse mannegroep Eden, maar deesdae woeker Sean Else vreeslik agter die skerms van Suid-Afrika se volgende groot rolprente. Dié talentvolle liedjieskrywer, sanger, en nou ook regisseur, het reeds twee rolprente agter sy naam.

[caption id="attachment_112271" align="alignnone" width="469"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

In 2011 het hy die musiekprent Platteland vervaardig, en tans wys sy nuutste film, 'n Man Soos My Pa, in rolprentteaters.

Skaars het die kameras ophou rol aan 'n Man Soos My Pa, of Sean het dadelik weggespring met sy volgende groot projek, die epiese oorlogprent Modder en Bloed.

Die fliek vertel die storie van Willem Morkel (Stian Bam), ‘n Boerekryger en familieman wie se vrou en enigste kind tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Tesame met ander Boere-krygsgevangenes word Willem na die afgeleë St. Helena-eiland in die middel van die Atlantiese oseaan verban.

Daar kom Willem-hulle te staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ‘n vuurvreter van ‘n imperialis met ‘n onblusbare haat jeens die Afrikaner.

Maar die krygsgevangenes span saam en daag die Britse soldate uit tot ‘n rugbywedstryd wat uiteindelik lei tot ‘n mate van vergelding.

Ons het vir Sean gaan pols oor sy nuwe film, en die asemrowende filmplakkaat wat vandag eksklusief op Huisgenoot uitgereik word.

Hoe het jy van die storie van Modder en Bloed gehoor en betrokke geraak?

Ek het so deur die jare se lees en navorsing rondom die Anglo-Boereoorlog op baie interessante dinge afgekom. Een ding wat altyd vir my uitgestaan het, was die feit dat meeste Afrikaners eers rugby leer ken het in die krygsgevangenekampe en dat die spel ongelooflik onder die Afrikaner uitgebrei het ná die oorlog. Hierdie "oorsprong" van rugby onder die Afrikaner was reg om in 'n epiese verhaal vertel te word. Hoekom die tema van rugby ondersoek? Rugby beteken ongelooflik baie vir my en vir baie Suid-Afrikaners. Dit was vir my baie belangrik as storieverteller en filmmaker om mense meer te wys van die geskiedenis van dié sport in ons land; of minstens een belangrike oomblik daarvan.

"As daai army nie weet wat gedoen moet word nie, is die oorlog verlore"

Was dit ’n uitdaging om só ’n geskiedkundige drama aan te pak?

Beslis. Soos die rugbyafrigter in Modder en Bloed self sê: "There's nothing wrong with fear; fear is just a reminder that there is something worth fighting for."

'n Mens moet skrikkerig wees vir nuwe projekte, dit hou jou op jou tone en laat jou soveel voorbereiding doen as kan, want die sukses van enige film hang daarvan af. Met so 'n groot periodedrama soos Modder en Bloed is dit net opnuut aan my bewys. Hoe meer die filmspan weet wat in my kop aangaan en wat ek wil hê, hoeveel makliker is dit dat almal saam die doelwit bereik. Orson Welles het eenmaal gesê: "Making a film is like painting a picture with an army". As daai army nie weet wat gedoen moet word nie, is die oorlog verlore. Hoe was dit om saam die akteurs te werk? En hoe het jy hulle gemotiveerd gehou? Ek was bevooreg om met van ons land se beste akteurs te werk asook heelparty internasionale akteurs. Elke persoon het hul beste werk gelewer en ons het nooit enige probleme gehad onder die wonderlike groep akteurs en tegnici nie.

"Werk hard en glo in jou storie en jou span"

Ek glo dis nodig om te lei deur 'n voorbeeld te stel. Daarom maak ek seker dat almal gelukkig is deur self positief te wees. Ek respekteer ook elke persoon se bydrae op die stel, maak nie saak of hy net die koffie aandra nie, daai koffie maak 'n verskil.

Om 'n film te maak is 'n spanpoging en die span moet positief en gedrewe gehou word. Werk hard en glo in jou storie en jou span, en jou span sal in jou glo en saam sal julle 'n eerlike en opregte storie kan vertel.

Hoekom dink jy bly die Anglo-Boereoorlog nog so ’n relevante onderwerp vir Suid-Afrikaners, al het dit reeds 115 jaar gelede plaasgevind?

Dit was 'n groot draaipunt in ons land se politieke en sosio-ekonomiese geskiedenis. Elke persoon in ons land is op 'n manier daardeur geaffekteer. Die oorlog het ook die Afrikaner in twee geskeur en daar lê baie diep wonde vir mense in daardie feit. Dis is ook nodig om terug te kyk na jou eie geskiedenis sowel as die geskiedenis van jou land. As ons meer uit die verlede leer, sal ons dalk minder die foute van die verlede herhaal.

Wat is die storie agter die asemrowende plakkaat?

Daniel-Duncan Rheed van Onemanshow Creative het dit ontwerp. Behalwe daarvoor het hy en sy span ook ons ongelooflike webwerf gemaak.

Wat is jou volgende projek wat jy aanpak, of neem jy eers ’n blaaskans?

Ek het sowat agt projekte wat ek tans ontwikkel en aan skryf. Dan is daar ook vele tekste wat klaar geskryf is en waar ons net op finansiering wag. Om flieks te maak, is soos om wyn te maak: jy moet gedurig vooruit werk omdat dit 'n baie lang tyd neem vanaf begin tot einde.

Ons behoort teen middel volgende jaar die volgende een te begin skiet, maar vir nou nou moet ek al die besonderhede vir eers geheim hou.